Jason Rohde, die grootbaas van die eiendomsagente Sotheby’s, is Dindagoggend om 06:30 in hegtenis geneem.

Dit volg op die vermeende wurgmoord op sy vrou, Susan, twee weke gelede op Stellenbosch.

Rohde se regsverteenwoordiger, Daniel Witz, sê sy kliënt is voor sy drie dogters deur agt gewapende polisiemanne in hegtenis geneem. Hy woon in Bryanston.

Witz het volgens hom verlede week 'n ooreenkoms met die ondersoekbeampte aangegaan waarvolgens Rohde homself sou oorgee indien hy 'n verdagte was. “Ondanks die ooreenkoms het die polisie steeds voortgegaan en gedoen wat hulle wil,” het Witz aan Huisgenoot gesê.

Dis onseker wat die klagte is waarop Rohde in hegtenis geneem is. “Dit sal waarskynlik moord wees,” aldus Witz.

Hy wou nie bevestig waar Rohde aangehou word nie.

Reëlings vir 'n eerste hofverskyning word tans met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) getref. Dis onseker of hy vandag al sal verskyn.