Jason Rohde, die grootbaas van die eiendomsagentskap Sotheby's, wat Dinsdagoggend voor sy drie dogters in arres geneem is in verband met die moord op sy vrou, Susan, sou aanvanklik in die Randburg-landdroshof aangehoor word, maar word nou na die toneel van die misdaad verskuif. Jason en sy gesin woon in Bryanston in Johannesburg, maar volgens sy prokureur, Daniel Witz, gaan sy kliënt nie vandag in die hof verskyn nie. Hy word eerder reguit Stellenbosch toe geneem. Huisgenoot se Hilda van Dyk is buite die Randburg-polisiekantoor waar Jason Rohde wat deur polisie na Stellenbosch weggeneem is.

Jason is deur twee polisiebeamptes in ’n wit Nissan Hardbody met ’n CL-nommerplaat (dié van Stellenbosch) weggeneem. Hy het links agter in die voertuig gesit en sy kop agter die sitplek probeer wegsteek.

Daniel het buite die landdroshof in Randburg met die media gepraat en gesê die Rohde-dogters word in hul pa se afwesigheid deur hul grootouers versorg. Lees ook: Spier-wurgmoord: man in hegtenis Jason sal na verwagting Donderdagoggend in die Stellenbosse landdroshof verskyn, het Daniel gesê. Sy regspan gaan Donderdag aansoek om borgtog doen. Volgens Daniel is Jason se enigste bekommernis sy dogters. "Hy het vir ons gesê: 'Maak net seker hulle is OK.'

"Geen arrestasie-lasbrief is uitgereik nie. Die polisie het ’n brief van die NVG gehad om te sê ’n arrestasie moet plaasvind," het Daniel gesê.

In hierdie stadium "staan Jason sterk", vertel Daniel.

Jason se inhegtenisname volg op die vermeende wurgmoord op sy vrou twee weke gelede op Stellenbosch.