Jason (47) het Vrydagoggend in die Stellenbosse landdroshof verskyn. Hy het aansoek gedoen om terug te keer na sy huis in Johannesburg. As deel van sy aanvanklike borgtogvoorwaardes moes hy in die Wes-Kaap bly. Daarom het hy die laaste paar weke by sy suster en haar man in Melkbosstrand tuisgegaan.

Volgens Jason, wat die uitvoerende hoof van Geffen Realty International Franchises, 'n afdeling van Sotheby's, is, wil hy nader aan sy een dogter wees wat tans matriek in die Goudstad voltooi.

Sy ander twee dogters is tans in die koshuis in die Oos-Kaap.

Jason het in 'n verklaring gesê hy wil ook aandag skenk aan sy werk. Die staatsaanklaer adv. Carien Teunissen, het in die hof gesê dit is nie nodig vir Jason om in Johannesburg te wees nie omdat hy tydelik geskors is en sy dogters nie by hom woon nie.

Maar Jason se regsverteenwoordiger, adv Ross McKernan, het gesê Jason se oudste dogter is slegs in 'n Johannesburgse koshuis omdat hy nie daar is om na haar om te sien nie.

"Sy wil nie daar wees nie," het Ross aan die hof gesê. Jason was netjies geklee in 'n formele pak. Hy het voortdurend voor hom gekyk.

Die staat het ook gesê daar is sekere aspekte rakende Jason se burgerskap wat opgeklaar moet word want een van sy paspoorte dui verkeerdelik aan dat hy in Suid-Afrika gebore is. Jason is egter in Brittanje gebore.

Landdros Greg Jacobs het Rohde se aansoek toegestaan. Hy het gesê Jason se borgtogvoorwaardes bly dieselfde, maar hy voeg by dat Jason nie misdade mag pleeg as hy in Johannesburg is nie.

Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel tot 27 Januarie 2017.