Jason Rohde, grootbaas van Sotheby’s, het Donderdag in die landdroshof op Stellenbosch verskyn in verband met die moord op sy vrou, Susan. ’n Duidelik terneergedrukte Jason het in ’n blou baadjie en langbroek by die hof opgedaag nadat hy met ’n polisievoertuig soontoe geneem is. Hy word sedert Woensdag in die Stellenbosse polisiekantoor aangehou. Hy is Dinsdag in hegtenis geneem.

Hier is wat jy oor Donderdag se hofverrigtinge moet weet:

1. Jason se vrou, Susan, is einde verlede maand dood op die Spier-landgoed gevind. Sy is aan ’n elektriese koord in die badkamer opgehang. Hulle het drie minderjarige dogters.

2. Die staatspatoloog beweer Susan het weens verwurging omgekom, maar Jason het sy ’n onafhanklike patoloog gevra om ’n ondersoek te doen. Dié het glo bevind die beentjie in die keel wat normaalweg breek as iemand verwurg word, was by Susan nog heel.

Lees ook: EKSKLUSIEF: Selmaat vertel oor sy nag saam met Jason Rohde

3. Jason se regspan sê daar is gevolglik sterk bewyse dat sy haar eie lewe geneem het. Die twee het glo ’n huweliksberader gesien wat aangedui het Susan het selfdoodneigings.

4. Borgtog is nie Donderdag aan Jason toegestaan nie. Die staat het gesê hulle het nog tyd nodig om voor te berei. Landdros Greg Jacobs het die saak tot Vrydag 11:30 uitgestel.

5. Jason se regspan het hul ontevredenheid uitgespreek omdat hul kliënt in Johannesburg voor sy kinders in hegtenis geneem is nadat hy glo gesê het hy sal Kaapstad toe reis en self aanmeld sou hy die polisie hom wou aankeer.

Lees ook: Kyk hoe reageer mense toe Jason Rohde by die hof aankom

6. Die Rohde-gesin se indrukwekkende rykdom is in die hof onthul. Jason verdien glo meer as R150 000 per maand. Sy totale bates beloop sowat R30 miljoen.

7. Die staatsaanklaer is adv. Carine Teunissen, wat ook die aanklaer was in die moordsaak van die Matie Inge Lotz.

8. Die staat bepaal nog of hulle Jason van ’n skedule-ses- of skedule-vyf-misdaad gaan aankla. Vyf sluit moord in, terwyl ses moord met voorbedagte rade insluit.

9. Jason se regspan beweer die polisie wat die toneel ondersoek het waar Susan se lyk gevind is, het dit agterna oopgelaat en dit kon bewyse in gedrang bring.

10. Die staat het om meer tyd gevra omdat hul voorlopige ondersoeke glo nog nie afgehandel is nie en aangedui hul hulpbronne is onder druk.