Kate Rohde, een van die vermoorde Susan Rohde (47) se dogters, het ’n kort video-huldeblyk op Instagram gedeel. “Jy is altyd en sal altyd in my gedagtes wees, loser. “Ons mis jou reeds,” het Kate by die video geskryf. Die video bestaan uit kort videogrepe en foto’s wat Susan uitbeeld as ’n gelukkige vrou, wat pret saam met haar dogters gehad en baie gelag het.

Always are and always will be in my thoughts loser ??? we miss you already? #weloveyou @alrohde @josierohde

A video posted by Kathryn Rohde (@kate_rohde_) on

Die video is sowat twee weke gelede op Instagram gedeel en talle van Kate se volgelinge en vriende het op die video kommentaar gelewer. Hulle het haar sterkte toegewens en prentjies van hartjies gestuur.

“Dit is jou ma en my tannie wat ek onthou,” het Matt Norton onder aan die video gesê.

Lees ook: Rohde-man op verlof terwyl polisie Spier-moord ondersoek

“So mooi, Kate. Net soos ek jou pragtige ma altyd sal onthou. Ek stuur vir julle baie liefde. Ons gaan haar mis,” het ene Charlene Hawkes gesê.

“Sy was so ’n gelukkige en borrelende siel,” het Emma Hallas onder in die kommentaar-afdeling geskryf.

Susan is Jason Rohde (47), die uitvoerende hoof van Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika, se vrou. Sy is op 24 Julie dood aangetref in hul hotelkamer op die Spier-wynlandgoed.

Die egpaar het op Saterdag 23 Julie ’n jaarlikse konferensie van Sotheby’s bygewoon en sou glo die Sondag terugvlieg Johannesburg toe.

Aanvanklik is gedink Susan het haar eie lewe geneem. Sy is agter die badkamerdeur aangetref waar sy aan ’n elektriese kabel gehang het.

Eers het die polisie ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, is dit op 4 Augustus na ’n moordondersoek verander nadat die lykskouing afgehandel is.