Al wil jy hê jou kinders moet buitelugaktiwiteite geniet, hou die somer baie  verskuilde gevare in. En party kan dodelik wees. Let hierop:

1. SWEMBAD-VEILIGHEID

Suid-Afrika het geweldig baie swembaddens, maar die gevaar van verdrinking is nie tot swembaddens beperk nie. Ons land het ook baie riviere, damme en strande.

Dit behoort een van ’n ouer se hoofprioriteite te wees om in swemlesse vir die kinders te belê.  As jou kinders nie kan swem nie, sorg dat hulle vlerkies of ’n opblaasfrokkie dra. Maar maak nie saak hoe goed ’n kind kan swem nie, hulle moet nooit toegelaat word om sonder die toesig van ’n volwassene in die water te baljaar nie. ’n Kind kan binne sekondes verdrink – die tyd wat dit neem om net gou jou foon te beantwoord.

2. SONBRAND

Jy het dit al duisend maal gehoor, maar dis noodsaaklik dat jy elke dag vir jou kinders ’n goeie sonroom aanwend en die proses gereeld herhaal – elke twee uur, veral as hulle nat word. Dit geld vir alle velsoorte.

Kies een waarop “breë spektrum” staan. Dit bied beskerming teen UVA-strale, wat  veroudering verooraak, en ook UVB-strale, wat jou sonbrand gee. Moenie dat ’n hoë sonbeskermingsfaktor (SBF) jou mislei nie.

Navorsing wys ’n SBF van bo 30 bied nie veel beter beskerming nie. Dit gee ouers net ’n vals gevoel van gerustheid en dan vergeet hulle om dit gereeld aan te smeer, waardeur die doel verydel word. Laat jou kind ’n hoed en UV-bril vir nog beskerming dra.

3. VOORKOM ONTWATERING

Dit is belangrik dat jou kinders genoeg vloeistof drink. Kinders kan baie maklik in die son  ontwater, veral as hulle aktief is en sweet. Water, melk en vrugtesap is ideaal. Kafeïen is waterafdrywend; vermy dus drankies, veral bruisdrankies, met dié bestanddeel.

Duiseligheid, lighoofdigheid en naarheid is alles tekens van ontwatering en oorverhitting.

4. BOSLUISBYTE

As jou kind graag die bosse invaar of saam met haar pa gaan kampeer, wees gewaarsku: Bosluise, die draers van baie siektes, is dol oor ruigtes, beboste plekke en lang gras.

As jou kind tekens van koors, hoofpyn of moegheid toon en ’n uitslag of velsere het, het ’n

bosluis haar dalk gebyt. Help keer dat dit gebeur deur kinders ’n langwerkende  insekweerder te laat aansmeer en ook hul klere daarmee te behandel.

Troeteldiere kan ook bosluise dra; ondersoek hulle gereeld daarvoor.

5. VOEDSELVERGIFTIGING

Moenie in warm weer vir jou kinders ham-, hoender- of eiertoebroodjies inpak nie; dié proteïene raak gou sleg en dit kan voedselvergiftiging veroorsaak. Hou kos vars deur dit in ’n geïsoleerde kosblik te pak en ’n ysblok daarin te sit om dit koud te hou, sê Lucy Gericke, ’n geregistreerde dieetkundige by die Hart-en- Beroertestigting van SA.

Van die vulsels wat nie gou sal bederf nie, is grondboontjiebotter, harde kaas, konfyt met

min suiker en slaaibestanddele. Draai altyd kos in tinfoelie of waspapier toe en sê vir jou kind om nie sy kosblik in die son te laat staan nie, sê sy.

6. VEILIGHEID OP DIE SPEELTERREIN

Keer beserings wat jou kind by ongevalle kan laat beland deur ’n reël neer te lê dat hulle nooit sonder ’n valhelm fiets, skopfiets of skaatsplank mag ry nie. Ander veiligheidsdrag sluit in elmboog-, skeen- en knieskutte.

Trampoliens is baie gevaarlik en is ’n groot oorsaak van beenbreuke, harsingskudding en

nek- en rugbeserings. Sorg altyd vir volwasse toesig wanneer jou kinders trampolien spring.

Oppas vir warm metaalglyplanke; hulle kan ’n mens se vel lelik brand.

Het jy geweet?

Velkanker is die no. 1-kanker in Suid-Afrika

Topwenk

Sit ’n plastiekbottel met bevrore water in jou kind se kosblik. Dit sal nie net die kos koel en veilig hou nie; dis ook ’n verfrissende drankie op ’n warm somerdag.

- Nici de Wet