Toe hy vier en ’n half jaar oud was, het Justin Smith* se wêreld so verander dat dit sekerlik vir hom erg dramaties en verwarrend gevoel het. Hy is uit sy speelgroepie met 10 maatjies verskuif na gr. 0 met dubbel soveel kinders in sy klas. Hy het skielik ook nuwe verantwoordelikhede gehad, soos om sy kosblik en skooltas op te pas en huiswerk te doen. Twee weke later het sy ma weer ’n baba gehad en het die gesin boonop na ’n ander huis in Ekurhuleni getrek. “In ’n kwessie van ’n paar maande is sy hele wêreld omvergewerp,” vertel sy ma, Ria*.

“Justin het begin stout word en was dik-mond en ongeskik. Hy was ongehoorsaam en het oor die eenvoudigste dingetjies gehuil. Alles wat hy vier jaar lank so maklik en gelukkig gedoen het, was skielik iets van die verlede.” Sy kon hom nie sover kry om sy ontbyt te eet of te bad nie en die enigste manier waarop hy aan die slaap kon raak, was saam met haar en haar man in hul bed.

Ria het baie bekommerd geraak oor haar seun se gedrag. Boonop het sy tussen Justin se vreemde gedrag en die versorging van die baba geen slaap gekry nie. “Ek het in ’n ware heks sonder enige geduld ontaard,” lag sy nou daaroor.

’n Onderwyseres by Justin se skool het spelterapievoorgestel. Ná net ses sessies was hy weer die kind wat Ria geken het. “Ons het nou weer dieselfde goeie verhouding as voorheen,” sê sy. “Karen van Zyl, die terapeut, het my geleer om my nie oor onbenullighede te bekommer nie. Die terapie het my ook gehelp om die magsposisie in my en Justin se verhouding terug te kry. Ons het weer ons ritme en roetine en alles is soveel makliker.”

Ria vertel dit klink dalk nou maklik, maar voor die spelterapie het sy glad nie geweet wat om te doen nie, nie eens nadat sy verskeie boeke oor kindergedrag gelees het nie. “Dit was wonderlik om ’n opgeleide professionele mens te hê wat vir my kon verduidelik wat Justin se gedrag beteken,” sê sy. “Ek het hom beter verstaan en kon hom ook op ’n baie sagter manier hanteer.”

Justin is steeds baie erg oor Karen, ’n sielkundige van Kempton Park wat in vroeë kinderontwikkeling spesialiseer. Hy gaan nog soms terug vir ’n opvolgsessie.

Wat is spelterapie?

’n Opgeleide spelterapeut gebruik spel om die oorsaak van probleme op te spoor en kinders te help om dit te verwerk. Met spelterapie word ’n kind soos Justin gehelp om die verwarrende gevoelens te verstaan wat iets soos ’n groot verandering in sy lewe teweeggebring het, verduidelik Karen.

“Kinders gebruik hul verbeelding in spel, en deur die speelgoed druk hulle hul gedagtes simbolies uit. Die terapeut kan die spel sy gang laat gaan en evalueer wat gebeur sonder om leiding te gee, of in ’n stadium betrokke raak en ’n meer voorskriftelike benadering volg.”

Jodi Lord, ’n traumaberader en spelterapiespesialis van Claremont in Kaapstad, sê speel is een van die doeltreffendste maniere om verandering in ’n kind te bewerkstellig. “Speelgoed word soos woorde gebruik en word die kind se natuurlike taal.” Items wat normaalweg tydens spelterapie gebruik word, is speelgoed, materiale vir kuns- en handwerk, kostuums en bykomstighede vir rolspel, bakke met sand en water, blinkers, klei, legkaarte, speelfiguurtjies en diere, musiekinstrumente, handpoppe, boeke en binnenshuise speletjies soos ringe gooi en basketbal.

Jodi sê ’n tipiese oefening om mee te begin is om ’n ballon te gebruik. “Ek vra hulle om hul probleme op ’n ballon te skryf en dan verdeel ons die speelkamer met ’n stuk tou in twee, soos ’n tennisbaan.” Terwyl hulle aan weerskante staan, slaan hulle die ballon vir mekaar terwyl hulle hul probleme hardop noem. “Wanneer ons klaar is, kan die kind die ballon laat bars en sien hoe sy probleme kleiner word. Ek vra hom dan om die stukkende ballon in die  snippermandjie te gooi. Dit beteken nie die probleem het verdwyn nie, maar dit gee die kind ’n gevoel van mag oor sy probleme.”

Karen begin gewoonlik haar sessies met ’n sintuiglike ervaring. Dit kan wees om klanke, smake en verskillende geure in houers te identifiseer of om met ’n vergrootglas, teleskoop, kaleidoskoop of kartonbuis te speel terwyl die kind praat oor die  herinneringe wat dit losmaak. Die doel van spelterapie, benewens die behandeling van spesifieke probleme, is ook om beter verhoudingsvaardighede, eiewaarde en verantwoordelikheid te kweek.

Spelterapie kan help in gevalle van egskeiding, sosialiseringsprobleme, swak woedehantering,  angstigheid, depressie, aandaggebreksteuring, obsessiefkompulsiewe steuring, leerprobleme, outisme of trauma. Dié probleme kan veroorsaak word deur enigiets van ’n geboelie en  huishoudelike geweld tot ’n kaping of sterfgeval.

“Party kinders reageer op korttermynbehandeling, soos vier sessies, maar in ingewikkelder gevalle het ek al twee jaar en langer met kinders gewerk,” sê Karen. Sessies word gewoonlik een keer per week gehou en kan van 30 minute tot ’n uur duur, afhangende van die kind se ouderdom. Spelterapeute sien gewoonlik kinders van drie tot 12 of 13 jaar oud; daarna is hulle oud genoeg is om in gewone terapiesessies oor hul problem te praat. Ouers woon nie die sessies by nie, maar kry ná elke sessie terugvoer.

Hoe dit werk

Spelterapie kan doeltreffend wees vir kinders wat sukkel om hul emosies uit te druk of selfs om sin daaruit te maak, en dan gedragsveranderings toon. Wanneer kinders moeilike ervarings beleef, kan hulle sukkel om dit te verwerk en dan steek dit vas. “In terapie kom dié dinge dikwels vanself na vore, en deur hul ervarings in spel uit te beeld, kan hulle die probleme verwerk,” sê Karen. “Ervarings wat ’n indruk op ’n kind gemaak het, kan in hul spelgedrag uitkom. ’n Kind wat ’n motorongeluk gesien het, sal byvoorbeeld speelmotortjies teen mekaar stamp. As ’n kind sy ouers sien baklei het, kan hy handpoppe gebruik om die konflik uit te beeld.”

Die terapeut kan ingryp deur scenario’s te skep waarvoor die kind ’n goeie einde kan vind, vervolg Karen. Sy kan ook as ’n karakter in die  speletjie betrokke raak om moeilike konsepte soos die dood of toepaslike gedrag uit te beeld. Die kind kan ook soms die rol van verskillende karakters aanneem om empatie te help ontwikkel. “Spelterapie werk omdat die terapeut die kind se wêreld binnekom en hom laat voel hy word gehoor,” sê Jodi.

* Skuilname is gebruik.

Hoe spelterapie Justin gehelp het

Spelterapie het help bevestig dat Justin sy vertrouensverhouding met sy ma gemis het en ’n renons in haar begin ontwikkel het omdat sy nie genoeg tyd saam met hom deurgebring het nie. In een sessie het die terapeut Karen van Zyl Justin gevra om ’n ruimtetuig met plek vir net twee mensete teken en om ’n passasier te kies. Hy het sy ma, met wie hy die sterkste band gehad het, gekies. Van daar af het hulle sy gevoelens oor haar ondersoek, soos hoe sterk hy oor hul band gevoel het en hoe dit hom geraak het dat hy nie meer soveel aandag by haar gekry het nie. Justin het ook ’n handpop wat homself verteenwoordig, gebruik om met Karen se pop, wat sy ma voorstel, te gesels oor waarom die poppe dalk vir mekaar kwaad kan wees. Karen het voorgestel dat Ria ’n beloningstelsel vir positiewe gedrag instel en een middag per week net vir haar en Justin opsysit, wanneer Justin ook  kan besluit wat hulle doen.

- Tom Raath