As speeltyd jou verwar, moenie bekommerd wees nie. ’n Onlangse ondersoek deur ’n speelgoedvervaardiger toon jy is nie alleen nie.

Ouers beskou dalk speeltyd as lekker pret, maar vir kinders is dit ’n manier van leer en ontwikkel. “Kinders leer en groei meer in een stimulerende dag as wat ’n deursnee-grootmens in ’n week by die werk leer,” sê Melanie Hartgill, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

Speel ontwikkel ’n kind se kognitiewe vaardighede, soos waarneming, beredenering en oordeel, en verbeelding. Sportiewe speletjies soos aan-aan of ’n bal gooi moedig motoriese vaardighede en spiergroei aan.

Volg hierdie maklike wenke en laat die pret begin.

Speeltydwenke

Kry hulle aan die gang: Kinders het speelgoed nodig, maar dit hoef nie duur of deftig te wees nie, sê die opvoedkundige sielkundige Quinton Adams. Goedkoop speelgoed soos balle, speelkaarte, klei en kryte kan kinders ure besig hou. Speelgoed moet vir hul ouderdom geskik wees. Toon belangstelling in jou kind se spelery. Vra byvoorbeeld nadat jou kind by maats gespeel het, met watter speelgoed hy gespeel het en of hy iets nuuts geleer het.

Beperk skermtyd: As jou kind heeldag voor die TV of rekenaar vasgenael sit, sal sy nie tyd oor hê om liggaamlike speletjies te speel nie. Elektroniese speletjies kan opvoedkundig en vermaaklik wees, maar bied nie al die voordele van aktiewe speletjies nie.

Wees beskikbaar: Sit elke dag tyd opsy vir speel. “Ouers moet elke dag minstens 10 minute alleen met elke kind probeer deurbring en doen wat die kind wil doen,” sê die sielkundige Melanie Hartgill. “Dit kan ’n probleem wees in groter gesinne of wanneer ouers laat van die werk af kom, maar ’n korter speeltyd is beter as niks.” Ouers kan beurte maak met speeltyd, sê Leila Abdool Gafoor, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg. Enkelouers kan speel met die werklikhede van die alledaagse lewe kombineer, sê dr Melodie de Jager, ’n opvoedkundige sielkundige. “Moedig saam kook aan, met die hond gaan stap, ’n vinnige swemsessie, tuin natlei, terwyl jy met jou kind gesels.” Kinders het oënskynlik eindelose energie en meer fisieke speletjies is vir party ouers uitputtend. Speel speletjies waar die kind die meeste van die liggaamlike aktiwiteit doen, beveel Leila aan. Vir ’n skattejag in jou agterplaas hoef jy net items weg te steek en vir jou kind leidrade te gee oor waar dit is. Die kind kan dan op sy eie rondhardloop en na die versteekte items soek.

Laat jou kind die leiding neem: Die beste manier om speeltyd lekker en interessant te hou, is om jou kind die leiding te laat neem en haar voorstelle te volg. Moet haar nie probeer dwing om met jou te speel as sy in ’n slegte bui, honger of moeg is nie. Dit sal op trane uitloop. Moet ook nie jou lyf speeltydpolisie hou deur voor te sê wanneer en watter soort speletjie sy mag speel nie. Dit sal al die pret daaruit haal en jou kind sal belangstelling verloor, maan Melanie. As kinders verveeld raak met ’n speletjie, moet jy hulle nie dwing om aan te hou nie. Hulle het ’n kort aandagspan en dit is normaal dat hulle belangstelling verloor. “Kies liewer eenvoudige speletjies sodat jou tyd en energie nie vermors word deur ’n aktiwiteit voor te berei wat veronderstel was om jou kind die helfte van die aand besig te hou maar net 10 minute hul belangstelling behou nie,” voeg sy by. Kinders leer deur herhaling. Al is jy siek en sat daarvan om elke aand dieselfde speletjie te speel, moet jy maar net op jou tande kners, sê Melanie. Maar moenie toelaat dat jou kind jou hiet en gebied nie. As julle byvoorbeeld saam ’n bordspeletjie speel en sy weier om die reëls te volg, moet jy nie huiwer om te onttrek en nee te sê nie, sê Melodie. Dis sal die kind leer dat die lewe reëls het en jy dit moet gehoorsam.

Balanseertoertjie: Soos met die meeste goed in die lewe, is balans die geheim. Saam speel versterk die band tussen ouer en kind, maar dit beteken nie jy hoef gedurig met jou kind te speel nie. Kinders moet ook alleen en met kinders van hul eie ouderdom speel. “Dikwels moet jy jou kind los sodat hy self kan verken en leer, anders sal hulle oormatig gestimuleer raak,” sê Melanie. “Dit lei tot ’n onrustige kind en ’n tiener wat veeleisend is en verwag om met ’n lepel gevoer te word.” Deur met kinders van sy eie ouderdom te speel, sal hy ook sosiale vaardighede soos konflikoplossing, onderhandeling en mededeelsaamheid leer.

Laat hulle faal en val: “Ek besef hoe baie senutergende oomblikke daar in ouerskap is, soos om te sien jou kind staan op die rand van die eetkamertafel of agteruit tree na ’n trap,” sê Melanie. Maar ons moet dit sover moontlik vermy om gedurig vir ons kinders te waarsku met ‘versigtig’ en ‘oppas’. Dit maak kinders senuagtig en onavontuurlik, wat hul leerproses aan bande lê.” Dis frustrerend om jou kind te sien sukkel, maar laat haar toe om dit self uit te pluis. Kinders leer meer deur te doen as net te sien. “Moenie altyd so gou tussenbeide tree nie. As hulle regtig sukkel, probeer nuttige wenke en voorstelle gee wat haar sal lei.” Vermy dit ook om jou kind reg te help wanneer sy “verkeerd” met iets speel. “Jou kind gebruik haar verbeelding om uit te vind wat sy nog alles met die voorwerp kan doen,” sê Melanie. Moet jou kind nooit verkleineer oor hoe sy speel nie, beveel Quinton aan. Speeltyd moet pret vir kinders en ouers wees.

- Petro-Anne Vlok