Vakansietyd laat baie ma’s kopkrap. Hoe op aarde hou jy die kinders besig, en boonop opbouend besig? Alle aktiwiteite hoef darem nie opvoedkundig te wees nie; kenners stem saam ouers moet kinders meer kans gee om sommer net te speel.

Speel is ’n onmisbare deel van ’n kind se ontwikkeling, sê Jolanda Dreyer, ’n sielkundige van Garsfontein, Pretoria, en die ma van ’n drie- en sewejarige. “Dit help hulle hul wêreld verwerk en integreer sodat hulle kan sin maak van dit wat rondom hulle aan die gang is.”

Vir ’n kind is spel soos ’n taal en speelgoed die woorde. “Speel is vir hulle dieselfde as wat dit vir jou as ma is om by ’n boesemvriendin te gaan koffie drink. Nadat julle daarmee klaar is, verstaan julle die wêreld beter.”

Speel hoef nie noodwendig uitstappies of opvoedkundige aktiwiteite te wees nie. “Jy hoef nie moeite te doen om duur speelgoed an te skaf nie. Tennislesse of legkaart bou is gestruktureerde spel; daar is reëls. Speel net met jou kind.”

Hoe speel mamma saam?

Sorg dat jy op dieselfde vlak as jou kind sit; plat op die vloer langs hulle as dit nodig is, sê Jolanda. “Begin deur net vir die kind te sê wat jy sien; neem waar wat hy doen. Kinders wil soms net weet iemand stel belang; iemand sien raak wat hulle doen.” Beskryf wat jy waarneem en sê byvoorbeeld: “O, mamma sien jy het die karretjie soontoe geskuif.”

Wag tot die kind vra jy moet saamspeel. “Wanneer die kind jou nooi, speel gerus saam. Maar moenie struktuur aan die spel probeer gee nie,” sê Jolanda. “Die kind is die baas. Vra hom: ‘Wat moet ons nou doen?’ ”

Moenie seergemaak voel wanneer dit lyk asof jou kind liewer alleen wil speel nie, maar bied hom genoeg kans om jou te nooi as hy wil.

Dis ook raadsaam om ’n speelhoekie tuis te skep en spesiale speeltyd opsy te sit. “Sê vir jou dogtertjie: ‘Wanneer mamma by die huis kom, gaan ons lekker teetyd hou.’ Maar gun haar dan kans om vir jou voor te sê hoe dié speel-speel-teetyd moet verloop.”

Die waarde van verbeelding

Kinders kan heerlik speel met enige voorwerpe wat iets in die “regte lewe” voorstel, verduidelik Jolanda. “Hoe meer hul verbeelding betrek word, hoe beter.” Juis daarom hou sy nie van speelgoed wat geluide maak nie. “In my praktyk haal ek al die batterye uit al die speelgoed en as die kinders daarvoor vra, sê ek hulle moet self die brandweer se geluid maak.”

Verbeeldingspeletjies is baie goed vir jou kind se ontwikkeling, sê Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.

“Wanneer hulle verbeeldingspeletjies speel, moet kinders noodwendig probleme oplos; hulle moet beplan wat gaan gebeur en dit in die regte volgorde laat gebeur.”

Verbeeldingspeletjies help kinders die wêreld uit verskillende oogpunte sien en help hulle empatie ontwikkel, sê Anel. Verbeeldingspeletjie kan hulle ook bemagtig. “Kinders ervaar hoe dit is om die ouer/dokter/ brandweerman te wees en in beheer te wees van ’n verbeelde situasie.”

- Suzaan Hauman

Ekstra bronne: childpsych.co.za

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.