Spanning gáán Joost van der Westhuizen sy lewe kos.

Só het ’n duidelik onstigte Ferdi Hartzenberg, Joost se prokureur, aan Huisgenoot gesê nadat die Getrouheidsfonds vir Prokureurs Vrydag aangedui het hulle gaan teen waarnemende regter Lester Adams se beslissing appelleer om die R385 600, wat sy eertydse prokureur in alle waarskynlikheid by hom gesteel het, uit te betaal.

“Dit is die laaste ding wat Joost nou nodig het! Daar is geen meriete vir appél nie,” het Ferdi gesê.

Die regter het Woensdag ná Joost se dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof Joost se weergawe aanvaar dat sy eertydse sakevriend en prokureur Robert Klinkenberg, van Klinkenberg Incorporated in Roodepoort, die geld aan Robert toevertrou het om namens hom te administreer en onder meer vir mediese onkoste soos nodig spoedig kon uitbetaal.

Jerome Losper, die fonds se hoof van eise, het in ’n persverklaring gesê hulle het die regter se uitspraak bestudeer en hul regspan het hulle op grond daarvan gesê daar is grondige redes om teen die beslissing te appelleer.

Hulle voer aan al het hulle begrip vir die omstandighede waarin Joost hom bevind, die regter nie met betrekking tot ander hofsake konsekwent opgetree het nie. Jerome het aan Huisgenoot bevestig die appèl sal gegrond wees op regstegniese aspekte “oor die spesifieke aard van die transaksies” waarvoor die geld moes aangewend moes word en dat dit nie binne die Getrouheidsfonds se versekering val nie.

“Dit is eintlik baie eenvoudig,” het Ferdi by navraag hieroor gesê. “Hulle betwis dat die redes waarvoor Joost die geld vir Klinkenberg gegee het nie die tipe transaksies is wat ’n prokureur gewoonlik vir ’n kliënt doen nie. Ons sê hierdie was nie ’n ‘belegging’ soos in ’n geldskema of iets nie.

"Dit is juis die soort transaksies wat ’n prokureur vir iemand in Joost se posisie kan doen en die hof het met ons saamgestem.”

Joost is in 2011 met die ongeneeslike motorneuronsiekte (MNS) gediagnoseer. Hy het reeds sy lewensverwagting van net 24 maande oortref.

Die fonds het egter as verweerder in die saak op die regsaspek gesteun dat hy net geld kan uitbetaal vir dienste wat gelewer moes word, maar wat beknoei is. Die fonds het aangevoer ’n trust is nie vir beleggingsdoeleindes nie en dat Joost gaan moet bewys watter “spesifieke redes vir transaksies” hy Robert in diens geneem het.

Die Getroudheidsfonds het Joost se aansoek betwis en aangevoer Joost kon nie bewys Robert het die geld by hom gesteel nie. Die fonds het aangevoer hy moes dit eerder van Robert se boedel verhaal.

Joost het Woensdag ná die uitspraak eksklusief aan Huisgenoot vertel hy is verheug oor die uitspraak en dat “dit sy kinders se geld is”.

Joost se twee jong kinders, Jordan (12) en Kylie (10), by die sangeres en aanbieder Amor Vittone, van wie hy vervreem is, sal nou egter nie dié geld ontvang as die fonds se aansoek om verlof tot appèl slaag nie.

Die fonds het tot 15 dae na die uitspraak geleentheid om hul aansoek te bring, wanneer die regter dan gaan moet beslis of daar genoeg meriete aan hul saak is om die aansoek toe te staan.

Ferdie sê hulle sal sodra die uitslag bekend is hul volgende stappe oorweeg. Maar oor een ding was Ferdie duidelik: Wat die fonds nou aan Joost doen is nie regverdig of reg nie.