As ouers besef ons hoe belangrik ’n goeie opvoeding vir ons kinders is. Dikwels wil ons geld opsy sit vir hul opvoeding, maar in ’n oogwink vreet alledaagse uitgawe ons inkomste op.

Dis duidelik: Die koste van opvoeding styg vinniger as inflasie. Dit beteken jou droom om jou kleinding graad te laat vang, word ál onbereikbaarder as jy nie nou al begin spaar nie.

“Die koste van opvoeding is nou 3,5 persent bo inflasie,” waarsku Sinenhlanhla Nzama, ’n beleggingsbemarkingsaktuaris by Old Mutual.  “Die meeste ouers weet nie die koste van opvoeding styg elke jaar met sowat 9 persent nie,” sê hy.

“’n Drie jaar lange B.Com.-graad aan die universiteit sal nou sowat R144 000 kos aan klasgeld alleen; boeke, reis, verblyf en sakgeld uitgesluit.”

As jou kind vanjaar met hoërskool begin, sal die bedrag die hoogte inskiet ná R221 000 vyf jaar van nou af, en ouers van gr. 1’s  sal na raming 12 jaar van nou af R440 000 moet opdok.

Dit is ’n hartseer werklikheid vir Nozipho en haar man, Mike Modisha, wat besef het die geld wat hulle die afgelope 15 jaar vir hul seun, Kamogelo, se tersiêre opvoeding gespaar het, is nie genoeg nie. Nozipho, ’n verpleegster in Pretoria, en Mike, ’n polisiebeampte, moes op die ou end ’n lening aangaan om vir hul seun se studie in ingenieurswese te help betaal.

Al het hulle al vroeg begin spaar, het hulle nie die premies jaarliks aangepas om met die stygende koste van opvoeding tred te hou nie. Daarom was die bedrag wat hulle met die jare gespaar het, nie genoeg nie.

Maar hoeveel is genoeg? Sinenhlanhla sê die ouers van kinders wat vanjaar gebore word, moet sowat R460 per maand vir universiteitstudie spaar, met die aanname van ’n gemiddelde groei van 10 persent per jaar. Dit moet elke jaar met minstens 9 persent verhoog word.

Hier is Sinenhlanhla se wenke:

1.      EFFEKTETRUSTS

“Baie mense wat effektetrusts kies, word gelok deur die ruim keuse wat ’n mens oor verskillende effektetrusts het, met party wat spesifiek daarop gemik is om die inflasiekoers te klop. Jou geld word in ’n mengsel van plaaslike en oorsese markte belê sodat die teikengroei steeds behaal word,” sê Sinenhlanhla.

Maar jou spaargeld is baie maklik toeganklik. Dit beteken jy moet gedissiplineerd wees en die versoeking weerstaan om jou kind se geld te gebruik.

2.      SPAARPOLISSE

“Dit is vaste besparing vir ’n sekere tydperk, gestel vyf tot 15 jaar, afhangende van wanneer jou kind skool of universiteit toe gaan. Jy kan óf vaste maandelikse premies óf ’n eenmalige bedrag in jou kind se polis betaal.”

Hy voeg by: Jy het beperkte toegang tot die spaargeld en jou spaargeld word gewoonlik in ’n groter verskeidenheid voorste effektetrustsfondse van jou keuse belê.

3.      FUNDISA

Dit is ’n regeringsprojek wat jou in staat stel om vir jou kind se opvoeding vir  ’n geakkrediteerde kwalifikasie aan ’n openbare kollege of universiteit te spaar. Jy word ’n jaarlikse bonus op jou spaargeld betaal, wat 25 persent van die geld kan wees wat jy jaarliks spaar tot hoogstens R600 per kind. “As jy R100 per maand spaar (altesaam R1 200 per jaar) kry jy dus nog R300 per jaar. Om die maksimum bonus van R600 te ontvang, moet jy altesaam R2 400 per jaar spaar. Die bonus kan net deur die leerder gebruik word. As jy jou eie geld vir ander doeleindes trek, sal jy die bonus verloor.”  Fundisa is net beskikbaar vir Suid-Afrikaners wie se inkomste nie R180 000 per jaar oorskry nie. Om ’n rekening te open moet jy een van die drie deelnemende banke (Standard Bank, ABSA en Nedbank) besoek of ’n aansoekvorm op Fundisa se webtuiste aflaai. Vir nog inligting, teken aan op www.asisa.co.za/fundisa.

4.      BANKSPAARREKENING

Hierdie rekeninge is nie geskik vir spaar vir jou kind se opvoeding nie, want hulle sal waarskynlik nie vir jou groei bo inflasie bied nie. “Een van die hoofuitdagings van spaar met ’n bankspaarrekening is dat die rente gewoonlik te laag is en nie die opvoedingsinflasie van 9 persent kan ewenaar nie,” sê Sinenhlanhla. “Byvoorbeeld: Een van die beste rentekoerse wat jy op die oomblik kan kry, is 6,5 persent met een van die banke se vastetermynspaarrekening. Maar dit is net 1 persent bo die gewone inflasie. Met spaar in ’n effektetrust of opvoedingspolis word jou geld in aandele en eiendom belê, wat jou ’n opbrengs kan gee wat nader aan of selfs beter as die opvoedinginflasie van 9 persent is.”

Maak so seker dat jy genoeg vir jou kind se opvoeding spaar

  1. Begin so gou moontlik. Kleiner bedrae aan die begin sal mettertyd optel.
  2. Moenie geld uit jou polis onttrek nie, want dit sal die eindelike waarde benadeel.
  3. Vind uit wat die koste van opvoeding sal wees wanneer jou kind eendag universiteit toe gaan.
  4. Gebruik opvoedingshulpmiddels en ’n gekwalifiseerde finansiële raadgewer om jou te help bepaal hoeveel jy elke maand moet wegsit.
  5. Verhoog jou betalings elke jaar wanneer jy jou salarisverhoging kry.
  6. Gebruik ’n gedeelte van jou jaarlikse bonus van jou werkgewer en vul jou kind se opvoedingspaargeld daarmee aan.

- Koketso Mashika