Een van die sowat 100 vermiste breine het glo aan die kloktoring-sluipskutter Charles Whitman behoort.

“Ons dink iemand het dalk die breine gevat, maar ons is nie doodseker nie,” het Tim Schallert, ’n sielkundedosent en medekurator van die versameling, aan die Austin American-Statesman gesê.

Sy medekurator, die sielkundedosent Lawrence Cormack, het gesê: “Dit is heel moontlik dat die nuus onder voorgraadse studente versprei het en mense dit begin gaps het vir hul leefvertrek of Halloween-poetse.”

Die Austin-staatshospitaal het die breine sowat 28 jaar gelede na die universiteit oorgeplaas onder ’n ooreenkoms vir “tydelike besit”. Tim het gesê sy sielkunde-laboratorium het net vir 100 breine plek gehad en die res is na die kelder van die universiteit se dierehulpbronsentrum verskuif.

“Dit is nie meer in die kelder nie,” het Lawrence gesê.

Die universiteit sê in ’n verklaring dit sal die omstandighede rakende die versameling ondersoek sedert dit amper 30 jaar gelede daarheen geneem is en die instelling is daartoe verbind om die breinmonsters met respek te behandel. Dit sê die oorblywende breinmonsters op die kampus word as ’n onderrighulpmiddel gebruik en noukeurig deur die fakulteit bestuur.

Die universiteit se ooreenkoms met die hospitaal het vereis dat die fakulteit enige data moes verwyder wat kon identifiseer van wie die brein gekom het. Maar Tim het gesê Charles se brein was waarskynlik deel van die versameling.

“Dit sou sin gemaak het dat dit in hierdie groep moes wees. Ons kan die brein nie opspoor nie,” het hy gesê.

Charles het in 1966 by die Universiteit van Texas op ’n skiettog gegaan en 16 mense doodgeskiet, onder andere sy ma en sy vrou. Charles het hom later op die uitkykdek van die universiteit se toring afgesper, van waar hy 11 van sy slagoffers doodgeskiet het voor die polisie hom doodgeskiet het.

Die 100 oorblywende breine by die fakulteit is na die Norman Hackerman-gebou verskuif waar dit met hoëresolusie-resonansiebeeldingstoerusting geskandeer word, het Lawrence gesê.

“Die MRI-beelde sal nuttige onderrig- en navorsingshulpmiddels wees. Dit hou die breine ongeskonde,” het hy aan die koerant gesê.