Catherine, wat na verwagting volgende maand sal kraam, gaan vermoedelik in die eksklusiewe Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Paddington, Wes-Londen, in ’n privaat suite die lewe skenk aan haar en prins William se baba. Die suite het ’n yskas, kluis en toegewyde kombuispersoneel.

Swanger vroue wat in dié vleuel te kraam, word op die hande gedra deur ’n toegewyde span mediese kenners in onder meer verloskundige, neonatale en narkotiese sorg, volgens MailOnline.

Elke suite spog met satelliettelevisie, ’n foon op die bedkassie, ’n yskas, radio en selfs ’n kluis om kosbare items in toe te sluit.

Catherine (31) sal ook tot die internet toegang hê en ’n keur van koerante sal elke oggend by haar suite afgelewer word.

Die Lindo-vleuel se toegewyde kombuispersoneel sal boonop te alle tye regstaan om enige kos te berei waarvoor die hertogin dalk lus kry en kan in verskeie dieetvoorkeure voorsien.

Catherine en William (30) sal ook die geboorte van hul erfgenaam kan vier met ’n glas sjampanje uit ’n uitgebreide wynlys wat aan pasiënte beskikbaar gestel word. Daar is ook gister onthul die koninklike paartjie weet nog nie wat die geslag van hul baba is nie, want hulle wil hê dit moet ’n verrassing wees.