Dis die soort video wat menige ouer koue rillings sal gee. In ’n proefneming wat met ’n versteekte kamera verfilm is, hardloop ’n vreesbevange kinders na vreemdelinge en sê ’n man probeer hulle ontvoer. Die ontvoerder daag op en sê die vreemdeling hoef hulle nie te bekommer nie; hy is die kind se pa en dat die kind net stout is.

Die video gee ouers koue rillings omdat een man sowaar die “ontvoerder” se hand skud en wegstap van die vreesbevange slagoffer nadat daar vir hom gesê is dat die kind jok. Maar daar is ook diegene wat dapper optree, soos ’n vrou wat die ontvoerder met pepersproei spuit.

Die vervaardiger van die video, Yousef Saleh (wat ook die ontvoerder speel), het op sy YouTube-blad geskryf hy het die video gemaak omdat hy kleintyd bang was hy sou ontvoer word. “Met dié video wou ek daardie vrees kunstig uitbeeld en ’n verandering help teweegbring deur vir mense te wys hoe belangrik dit is om op te tree wanneer so iets gebeur.”

“Kinders wat ontvoer word, is senuweeagtig in hul voornemende ontvoerder se geselskap, en dit hang van ons af om dit raak te sien en op te tree wanneer hulle in gevaar verkeer.”

Kyk hier om die Kidnapping Children Experiment te sien.

Kidnapping Kidnapping 2

Hoe gemaak in so ’n situasie?

In Suid-Afrika kyk mense dikwels anderpad, maar mense moet diegene beskerm wat hulp benodig, sê Louise Botha van die organisasie vir vermiste persone, Pink Ladies.

Ontbied so gou as moontlik die polisie en moenie outomaties die volwassene se weergawe bo dié van die kind glo nie, sê sy. “Hoekom sou ’n kind oor iets (soos ontvoering) jok?”

Dit kan dalk vir ’n kind moeilik wees om ’n stresvolle situasie hul storie reg oor te dra. “Dis hoekom dit so belangrik is om die polisie te betrek sodat hulle kan vasstel wat aangaan.”

Hou die kind weg van die ontvoerder en probeer so kalm as moontlik bly. “Dis moeilik, maar probeer en wys jy is in die beheer van die situasie, anders sal die ontvoerder die situasie tot sy voordeel aanwend.”

As jy nie direk betrokke kan raak nie uit vrees vir jou eie veiligheid of dié van jou kinders, onthou of skryf details neer soos die tipe motor wat die vervaardiger bestuur en die registrasienommer, asook ’n beskrywing van die ontvoerder en kind, sê Louise. Dit is belangrike inligting vir die polisie.

-Petro-Anne Vlok

BRONNE: dailymail.co.uk, youtube.com