Ons ouers het destyds penvriende gehad, en deesdae doen ons dit via die internet. Soos dié twee ‘vreemdelinge’ wat hul eie blog het.

Soos Gavin le Roux (18), 'n matrikulant die Hoërskool Tygerberg, Bellville en Chay Cook(18), 'n matrikulant aan die Hoërskool Bergvliet in Kaapstad wat 'n blog geskep het wat gemik is op tieners en jong volwassenes en met ’n liedjie van die dag, interessante video’s, kitsfeite, aanhalings en nuus oor beroemdes.

Daar’s ook plaaslike en wêreldnuus, persoonlike ervarings, grappies en foto’s. Gavin en Chay het dit saam begin, al het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie.

Hoe lank gebruik julle al sosiale netwerke? 

G Omtrent vyf jaar.

C Vyf jaar.

Waarvan hou julle die meeste? 

Ek kan nuwe mense van regoor die wêreld ontmoet, nuus oor my belangstellings soos tegnologie en sterrekunde lees en kyk wat die beroemdes aanvang.

C Dis eenvoudiger en goedkoper om so met jou vriende en familie kontak te hou en ek hou ook daarvan om te weet wat in die wêreld aangaan.

Waarvan hou jy nie? 

G Gemorspos en mense wat kamma iemand anders is!

C Dit kan ’n vinnige manier wees om lelike skinderstories te versprei.

Hoe het jul vriendskap en die blog begin? 

G Ek het verlede Julie gesien een van my Twitter-vriende gesels met een van haar pelle wat ’n aanhanger van Locnville is – dit was Chay.

Ons het begin gesels en die interessantste gesprekke gehad. Ons het besef ons deel baie belangstellings. Ons verjaar selfs net ’n dag uitmekaar! Toe ons einde verlede jaar vir ons gr. 11-eksamen moes leer, het ons besluit om ’n blog te begin vir wanneer ons ’n bietjie van die leerdery wil wegkom en vir vakansiepret.

C Daar is tye wanneer ek en Gavin sowat 20 gesprekke aan die gang het omdat ons so baie het om oor te gesels. Ons deel baie belangstellings, en het toe die blog begin. Tot dusver was dit suksesvol.

So julle het mekaar nog nie eintlik ontmoet nie? 

G Ons sê gedurig ons gaan, maar dit het nog nie gebeur nie. Ek is seker daarvan dit sal binnekort gebeur.

C Nee, nog nie van aangesig tot aangesig nie.

Hoe het julle geweet julle kan mekaar genoeg vertrou om die projek saam te begin?  

G Ons het vooraf baie oor die foon gepraat en oor die blog en Twitter gesels. So het die vertroue begin groei.

C Daar kom ’n tyd in ’n vriendskap dat jy weet jy kan die ander een vertrou. Met Gavin was dit baie maklik. Dit het ook gehelp dat ek met sy vriende op Twitter gesels het.

Watter wenke het julle oor hoe jy weet of ’n potensiële vriend ’n skurk is of nie?

G Praat gereeld en vra uit oor sy of haar persoonlikheid en belangstellings. Jy kan hulle ook op Facebook nooi om jou vriend te wees en kyk na hul foto’s en gesprekke met ander mense.

En hou persoonlike goed soos jou adres geheim.

C Oppas vir skelms. As jy iemand uiteindelik gaan ontmoet, doen dit in ’n openbare plek en vat nog iemand saam.

Ek het vriende wat al siek mense en bedrieërs ontmoet het. Hulle het hulle toe uit hul lewe verwyder deur hulle te blokkeer en ander oor hulle te waarsku.

KLIEK HIER of gaan na http://gaviichayy.tumblr.com/ om Gavin en Chay se blog van nader te leer ken.

Gavin op Twitter: http://twitter.com/gavinleroux

Chay op Twitter: http://twitter.com/locnville24_7