“Nou gaan ons gelyk wees in die gesin,” het Sorina Donderdagaand by die première van die rolprent Modder en Bloed gesê. Sy het behoorlik aan die sy van haar man, Braam Riekert, gestraal.

[caption id="attachment_119948" align="alignnone" width="600"]'n Stralende Sorina aan haar man, Braam, se sy. Foto: Marisa Fockema 'n Stralende Sorina aan haar man, Braam, se sy. Foto: Marisa Fockema[/caption]

Hulle is reeds die trotse ouers van Braam jr. (amper 2) – of soos hulle hom noem, “Braambossie”.

“Dis altyd pappa en Braambossie – die twee krulkopmanne in die huis. Met sussie gaan ons nou mooi in balans wees,” het Sorina gesê.

Kyk ook: Pragtige foto’s van swanger Sorina

Sussie het haar darem mooi gedra en nie Donderdagaand op die rooi tapyt haar verskyning gemaak nie. Hulle verwag sy gaan Woensdag of Donderdag haar opwagting maak.

“Ons is baie opgewonde,” sê Braam. “Braambossie is bewus van sy sussie wat kom, maar ons weet nog nie presies hoe hy haar gaan aanvaar nie.”

Sorina sê hoewel hul seuntjie se goed alles blou was, is pienk die kleur wat dié keer oorneem.

“Ek sien uit daarna om haar in prinsesrokkies aan te trek.”

Kyk ook: Bobby van Jaarsveld wys sy klein prinses, Armani – kyk dié skattige foto!

Hulle is tradisievas en het reeds besluit hul dogter gaan na Sorina se ma genoem word.

“Haar doopname is Mariana Elizabeth. Maar vir die noemnaam het ons Mariana na Miana verkort.”

Sy waarsku Miana gaan haar pappa om haar pinkie draai.

Lees ook: Die ooievaar is omtrent besig onder bekendes – kyk wie se dogtertjie is ook gebore!

En hy stem saam. “Ja, heeltemal. Dis nie eens ’n kwessie nie.”

Sorina sê haar man is nie bang om hand by te sit wat babas betref nie.

“Hy is die beste man. Ek sê net altyd dankie vir hom. Hy ruil doeke om en staan in die nag op. Ek is in Hoofletters (haar jongste album is getiteld Hoofletters) lief vir hierdie man langs my.”

Lees ook: Gedink daar’s net ooievaarstees? Watwou! Bobby hou ’n doekedinee

Ouerskap het hul lewe verander.

“Ons het altyd gedink ons weet wat liefde is. Maar toe Braambossie sy opwagting maak, het ons besef ’n mens het nooit ’n benul gehad van hoe groot onvoorwaardelike liefde werklik is nie. Ons voel dit ook met sy sussie wat op pad is.”

Dis ’n gevoel wat moeilik is om te verduidelik, sê Braam en voeg by vaderskap het hom net nog liewer vir sy vrou gemaak.

“ ’n Mens weet jy sal enigiets doen vir die klein lyfie. En dis ’n gevoel wat ooit ophou nie – dit hou net aan soos hulle grootword.”

Lees ook: Sorina wys haar baba!

Met sy krulhare lyk Braambossie soos sy pa. Maar na wie gaan hul prinses lyk?

“As sy soos mamma lyk, sal ek glad nie omgee nie,” sê Braam. Die sonar het reeds getoon sy het haar mamma se lengte.

“As sy soos pappa lyk, sal ek glad nie omgee nie,” sê Sorina. “Dan lyk my hele gesin soos my man.”

Hoe is dit dat soveel bekendes onlangs ouers geword het? Riana Nel, Elizma Theron, Ciske Kruger en Bobby van Jaasrveld het almal in die afgelope paar dae babas verwelkom.

“Ons was dalk almal by dieselfde vertoning,” skerts Sorina. “As ons so terugwerk was dit rondom Innibos se tyd. Daar gebeur beslis goed Innibos.”

– Marisa Fockema