Sy is ses en ’n half maande swanger met haar en haar man, Braam, se eerste kind, ’n seuntjie, en het gelukkig ongedeerd daarvan afgekom. Ons het gaan hoor hoe die swangerskap vorder en hoe dit nou met haar gaan ná die voorval.

Gaan lees hier Sorina se getuienis ná die voorval en ook wat presies gebeur het.

Sondag het ’n gasbottel amper langs jou ontplof terwyl julle by vriende gekuier het. Dit was ’n noue ontkoming, en julle was gister ginekoloog toe om seker te maak die baba het nie seergekry nie. Wat sê hy?

Klein Braam-lief is 100 persent en ons kan net vir God dankie sê dat hy die klein mensie in wording beskerm het.

Wat het deur jou kop gegaan toe jy besef jy het ’n ongebore mensie binne-in jou wat ook kan seerkry?

Histerie; ek wou mal word. Maar gelukkig was ek omring deur mense wat my hart op hul hande dra.

Wat is jou beste raad vir mense wat ook in sulke panieksituasies kan beland?

Om so gou moontlik so ver moontlik van die gevaar af weg te hardloop, want in sulke situasies dink mens nie eens aan jouself om jouself te red of te beskerm nie. Al wat dan instinktief deur ’n ma se kop en lyf gaan, is om die babatjie so veilig moontlik te hou.

Hoe gaan dit met die swangerskap?

Nog baie, baie goed; ek en seuntjie-lief is gesond en ek is nou amper 26 weke swanger (ses en ’n half maande)

Jou maag is nou al groter? Hoe voel dit?

Ek het beslis ’n groter magie as wat ek gehad het voor ek swanger was ;-). Dis ongelooflik om te weet dat hierbinne iemand is wat tans fyntjies aanmekaargeweef en -gevleg word deur God se delikate hande.

Moes jy al nuwe klere koop?

Jaaaaaaa!!! My klere het altyd net reg gesit, nie te los nie en nie te styf nie. So toe die eerste paar kilo’s begin klou en die vetjies druk my van alle kante in die somerhitte, toe besluit ek op ’n paar nuwe nommers. Ek het baie goeie raad by my Facebook-fans gekry om nie noodwendig kraamdrag te koop nie, maar dalk net my grootte te upsize, amper soos ’n McDonald’s-burger.

Skop klein Braampie al en hoe voel dit vir julle?

Hy is die meeste van die tyd baie rustig, maar wanneer Boetie Braambossie skop, maak hy seker hy word gevoel en gesien. Dit bly ’n seëning van oorvloedige genade en elke keer dat daai klein beentjies skop of elke sonar wat ons beleef, maak ’n mens, in diepe afhanklikheid van God, dankbaar vir hierdie mens-geskenkie.

Is pappa Braam opgewonde oor die seuntjie wat op pad is?

Woorde skiet vêr te kort om sy opgewondenheid vas te vang. Hy praat elke oggend met seuntjie-lief en gee vir hom ’n oorvloed soentjies op my maag.

Tot wanneer gaan jy nog optree?

Selektiewe optredes is nog tot so einde Februarie en dan begin ek weer volstoom einde Junie.

- Suzanne Venter