Die sangeres en aktrise Sorina Erasmus se skoonpa, Braam Riekert (70), is Maandag in ’n Pretoriase hospitaal oorlede.

Sorina, wat bekendheid verwerf het met haar persona die Flooze, het Maandag die hartseer nuus met haar aanhangers gedeel en hulde gebring aan haar skoonpa. “Ons harte is vandag in diepe rou gedompel. Die engele het my skoonpa Braam Riekert kom haal en hy sit aan die voete van die Koning,” lui haar hartroerende Facebook-inskrywing.

“Ons verlies is die Hemele se wins. Ons aardse mense groet ’n groot, goeie en gesiene boer wat diep spore in baie mense se harte getrap het met sy harde stem, sterk handdruk en sagte hart. Ek groet jou, Pa Braam. Dankie dat jy ’n pa duisend was vir my man Braam en dat jy hom grootgemaak het met die beste waardes. Ek weet dat my man Braam ons seuntjie Braambossie met dieselfde waardes sal grootmaak sodat hy óók ’n man van God en ’n mens van inbors sal wees. Saggies rus in vrede. Ons gaan jou verskriklik baie mis!!!!” het sy verder geskryf.

Sorina se man, Braam, het ook op Facebook hulde gebring aan sy pa.

Vriende van Braam, ’n boer van Roedtan in Limpopo, het op sosiale media geskryf oor sy nalatenskap.

Sorina se aanhangers het ook simpatieke en bemoedigende boodskappe aan die familie gestuur.

Braam onthou sy pa as iemand wie se woord sy eer was, sy plaas sy passie was en sy mense en gemeenskap sy hartklop.

“My pa was ’n droëland-saaiboer. Dit beteken in kort jy boer eerstens in geloof. Dit is die belangrikste saad wat jy moet plant alvorens jy ’n oes kan insit,” sê Braam.

Hy sal onthou hoe sy pa sy boerdery met sy Skepper gedeel het.

“My pa was ’n eenvoudige boer, ’n reguit man met ’n harde stem, stywe handdruk en sagte hart.

Braam Snr. was 15 jaar voorsitter van die Roedtan-Suid-boerevereniging.

Braam sê belangrike lesse wat hy by sy pa geleer het, is om vir ander iets te beteken sonder om enigiets terug te verwag. Terwyl hy in die hospitaal was, het die gemeenskap saamgetrek en sy lande help bewerk uit vrye wil, sy plaas help bestuur en van oral het mense gebel om hulp aan te bied.

“Ek was elke keer oorstelp met trane in my oë as iemand my bel en hulp aanbied. Elkeen het net gesê hulle doen dit vir Braam Riekert, juis omdat hy soveel vir ander gedoen en beteken het, dat hulle sy goeie dade oor die jare teruggee aan hom,” sê Braam.

By sy pa het hy geleer het om eerlik, nederig en ’n man van God te wees. “My pa was ’n hoë boom sonder dat hy dit geweet het.”

Vir Braam is daar te veel staaltjies, sêgoed en gewoontes van sy pa om te noem of uit te sonder.

“My pa was die Springbokvlakte se ikoon as dit by humoristiese staaltjies en pittige sêgoed kom.” Braam sê sy pa kon tong in die kies die ernstigste situasie ontlont of by ’n geselligheid die atmosfeer lig met sy kwinkslae.

Braam se ma, Elize Riekert, is blind en het haar kinders as blinde vrou grootgemaak soos enige ma wat kan sien. “My pa het haar uit die aard van die saak altyd vreeslik bygestaan.” Braam onthou hoe sy pa altyd gespot en gesê het sy kon nie sien hoe lelik hy was toe sy hom gekies het nie, sy moes maar gevoel het hoe mooi hy is.”

Jare gelede was die Riekert-gesin saam met hul goeie vriende Fred en Jolani van Vuuren in Zimbabwe. “Fred was in ’n rolstoel en my ma is blind. My pa, ma en Fred het na die watervalle gaan kyk, maar mense word vreeslik lastig geval deur smouse en bedelaars in die gebied. My pa het Fred in die rolstoel gestoot en my ma aan die een arm gelei toe ’n bedelaar aangestap kom.”

Net toe hy sy hande wil bak hou om iets te vra het hy gesien dié ou het meer probleme as hy, want hy sit met ’n verlamde en blinde. “Die bedelaar het net daar omgedraai sonder om iets te bedel. Van toe af het my pa oral waar ons gaan vir Fred in die rystoel gestoot, my ma aan die arm gelei en salig die besienswaardighede gaan aanskou."

Braam sê sy ma was baie afhanklik van haar man en het hom bitter lief gehad. “Dit is altyd vir my ’n voorreg om te vertel dat hulle amper 48 jaar getroud was en nooit een aand nié ’n bed gedeel het nie."

Wanneer die gesin met vakansie was of by iemand gaan kuier waar daar twee enkelbeddens was, het hulle altyd in een bed geklim – nie eens die twee beddens teenmekaar geskuif nie – en knus bymekaar gelê.

“Dit was nou waarlik ’n belofte van tot die dood ons skei,” sê Braam.

– Jana Smit en Charlea Sieberhagen