Trek hy meer op Catherine of William, en was dit ’n tikkie Diana wat ons daar om sy oë raakgesien het? Ons koninklike blogger se asem was omtrent weggeslaan met die doop van die Britse prinsie gister en die Cambridges se tweede openbare verskyning as ’n gesin van drie.

[caption id="attachment_57093" align="alignnone" width="479"]Illustrasie: Kobus Galloway Georgie se dooprok was 'n replika van die familiedooprok wat al byna 170 jaar oud is, maar nou te broos is om nog gedra te word. Illustrasie: Kobus Galloway[/caption]

DIE kleine prins George het gister ’n koninklike vertoning met sy doopplegtigheid gelewer. Anders as met sy eerste openbare optrede – op 23 Julie buite die St. Mary-hospitaal – toe hy hard gehuil het en sy voorkop rooi geplooi was in ’n reusagtige frons, was daar Woensdag nie sprake van ongelukkigheid nie. Maar ’n glimlag was daar nou ook nie.

[caption id="attachment_52330" align="alignnone" width="300"]Kwaaitjie Cambridge met sy eerste openbare verskyning buite die hospitaal. Kwaaitjie Cambridge met sy eerste openbare verskyning buite die hospitaal.[/caption]

’n Regte klein boosbekkie, het ek stilletjies gedink terwyl ek na die een ná die ander foto gekyk het. Die prinsie lyk na ’n ernstige kêrel met sy bolwange en sterk mond, nes dit ’n toekomstige koning betaam.

Hy het darem met die geesdriftige hulp van pa William vir omstanders “gewaai” en ná die doopplegtigheid in die Royal Chapel baie rustig in ma Catherine se arms gelyk, met die kleine handjies so ewe inmekaargevou. Te kostelik!

Dis tog pret om te probeer uitwerk soos wie Georgie die meeste lyk. Vir my lyk hy ewe veel na albei sy ouers, hoewel sy ma se gene duidelik in sy donker haartjies te sien is. William het hoeka gesê hy is Catherine se ewebeeld toe hy sy seun destyds buite die hospitaal aan die wêreldmedia voorgestel het, en hy was nie ver van die kol nie. Ek het tog ook ’n goeie skoot van ouma Diana in Georgie raakgesien, veral as ’n mens na die vorm van sy oë en die effens hangende ooglid kyk. diana1 Kom ons doen iets anders

En net soos Diana, wat met haar aankoms op die koninklike toneel nuwe lewe in die vervelige koningshuis geblaas het, is ook die Cambridges op hul manier besig om die koningshuis te moderniseer.

Anders as die norm is George nie in die musiekkamer van Buckinghampaleis gedoop nie, en is sy peetouers arm aan titels.

[caption id="attachment_56170" align="alignnone" width="414"]Die Royal Chapel. Foto: Inpra Die Royal Chapel in die St. James-paleis, waar Georgie gedoop is.[/caption]

Dis ook reg so. Die peetouers is almal lede van die Cambridges se binnekring. William wou duidelik sy ma ook in die prentjie gehad het en het een van haar vriendinne as ’n peetouer aangewys: Lucia Samuel is ’n trustee van Bereavement UK, ’n organisasie wat William se steun geniet.

Die gastelys was indrukwekkend klein, met skaars 22 gaste. William en Catherine se broers en suster is sonder hul aanhangsels genooi, die peetouers was daar met hul gades, en natuurlik was die 71-jarige Jessica Webb ook ’n gas. Sy is ’n vorige oppasser van William wat nou ’n ogie oor Georgie help hou. Sowel Pippa Middleton, Catherine se suster, as prins Harry het voorlesings tydens die kort diens gehou, maar nie een is ’n peetouer nie. Zara Tindall, prinses Anne se dogter wat self swanger is, is die enigste koninklike peetouer. William was sedert sy kinderjare baie nader aan prinses Anne se kinders as aan sy ander niggies, prinsesse Eugenie en Beatrice. Behalwe vir Jamie Lowther-Pinkerton, wat as privaat sekretaris vir die Cambridges en prins Harry gewerk het, is die ander peetouers William van Cutsen, Emilia Jardine-Paterson, Oliver Baker en die hertog van Grosvenor, almal lede van hul binnekring. Wat het Catherine gedra?

Dit was duidelik dat daar op ’n kleurskema vir die geleentheid besluit is. Catherine, Pippa en Camilla, die hertogin van Cornwall, het room gedra, en koningin Elizabeth en ouma Carole Middleton was in verskillende skakerings van blou.

Catherine het weer eens Alexander McQueen gedra: ’n room rok met ’n sagte val oor die borste en heupe. Die stylvolle room baret met ’n syroos en kantafronding was ook ’n gunsteling: die hoedemaker Jane Taylor se Georgie-etiket.

- Arlene Prinsloo

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Daar is min mense wat so baie soos sy van koningshuise oor die wêreld heen weet en daarom is sy Huisgenoot se koninklike blogger.