Hy is die vriendelike gesig wat al die afgelope 14 jaar vir TV-kykers die Engelse en Afrikaanse weernuus op SABC2 en 3 bring, maar JC Engelbrecht is ook ’n onderwysman, sanger, reisiger en omgewingskundige.

Ons het gaan inloer om meer van dié veelsydige man uit te vind.

Vertel ons van jou vroeë jare.

Ek het in Potchefstroom grootgeword en in 1985 aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer.

JC 1

Daarna het ek my honneurs in geografiese omgewingsbestuur asook ’n onderwysdiploma aan die Puk (die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit) verwerf. Ek het ook my meestersgraad in omgewingsbestuur in 1994 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.

Lees ook: Vaaljan ‘Wikus van de Merwe’ van District 9-faam haak af met sy SA skoonheid

Onderwys was maar nog altyd in my bloed, met albei my ouers wat ’n loopbaan in die onderwys gevolg het. Ook my liefde vir die natuur het ek by my ouers en familie geërf. Die plaas, bos en veld is onlosmaaklik deel van my.

En hoe het jou beroepspad ná jou studentejare verloop?

Ek het aan die Hoërskool Jeugland (Kempton Park) en die Helpmekaar-Kollege (Johannesburg) aardrykskunde gegee en 12 jaar gelede die hoofpos by Abbotts College Senior High School in Northcliff (Randburg) aanvaar waar ek vandag nog is.

En ons 2015-matriekklas het verlede jaar, soos die afgelope 12 jaar, ’n 100 persent-slaagsyfer gehad!

Is jou werk as weeraanbieder ’n kleintyddroom?

Nee, dit het eintlik toevallig gebeur. Met my agtergrond as aardrykskundeonderwyser het ek in 1992 ’n vryskutpos by die SAUK gekry om die weerkaarte voor te berei en saam te stel, maar twee weke later besef hulle ek kan praat ook!

Van toe af is ek voor die kameras in die Afrikaanse en Engelse nuusuitsendings. Ek het ook vir die TV-programme Veldfokus en 50/50 dokumentêre insetsels aangebied.

Ons hoor jy is ook baie avontuurlustig.

Ek hou van reis en nuwe plekke sien. Dit het ná my studentejare begin toe ek met ’n rugsak deur Europa getoer het, en vandag is daar nie ’n land in Europa waar ek nog nie was nie.

Dit is ook iets wat ek my leerders leer; daarom vat ek hulle gereeld op opvoedkundige toere oorsee. Ek en ’n groep van 12 kinders het ook in 2008 Kilimandjaro gaan klim.

JC kili

In 2013 bereik ek en vier leerlinge Mount Everest se basiskamp in Nepal ná 18 dae se klim. Ek het ook 52 valskermspronge agter die blad!

jc everest

Maar jy is ook ’n kranige sanger.

Kultuur en meer spesifek musiek het nog altyd ’n groot rol in my lewe gespeel. Op skool was ek in die Wes-Transvaalse Jeugkoor en as student vir ’n kort tyd lid van die Alabama-Studentegeselskap (die destydse sanggroep van die universiteit).

Kyk: Karen Zoid en Jan Blohm gee Groen Trui saam nuwe lewe

Buiten die koorsang het ek ook as solokunstenaar aan baie sangkompetisies, soos onder andere die ATKV se Cresendo-kompetisie, deelgeneem. Ek het twee keer tot die semifinaal deurgedring, en in 1992 was ek en my suster, Ina, as ’n duetgroep ook finaliste.

Vandag is ek betrokke by die lofprysingsgroep by die NG gemeente Constantiakruin in Roodepoort.

Hoe het jy jou vrou ontmoet?

Ek en Tasha was saam op die Puk, maar as haar senior het ek nie veel ooghare vir haar gehad nie! Sy was ook drie jaar lid van Alabama.

Toe loop ons mekaar weer in 1991 by die NG gemeente Morelettapark in Pretoria raak waar ons albei deel was van hul Kerssanggroep, en ja, toe trou ons twee jaar later. Ons dogtertjie, Anja (8), is ’n klein sterretjie en is net so lief vir sing soos pappa en mamma.

JC familie

Wat is jou raad aan die publiek as ’n omgewingskundige?

Ons moet met ’n langtermyntoekomsvisie na die omgewing kyk. Dit gaan nie oor vandag nie, maar oor môre. As rentmeesters het ons ’n verantwoordelikheid teenoor ons nageslag.

* Ons het ook hierdie juweeltjie van JC op YouTube gevind as deel van 'n veldtog deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloedoortappingsdiens om mense aan te moedig om bloed te skenk

- Deur Jaco Hough-Coetzee

Ander stories op Huisgenoot.com

Karen Zoid en Claire Johnston se spesiale oomblik

Kyk: Juanita du Plessis verklap haar stoutste oomblik en geheime talent

Adv. Thuli Madonsela beïndruk kykers op die Republiek van Zoid Afrika

Karen en Emo blaas nuwe lewe in geliefde liedjie

Johnson & Johnson moet R1,1 biljoen skadevergoeding betaal vir sterfte wat met babapoeier verbind word

Kyk: E-sigaret ontplof soos vuurwerk in man se broeksak

‘Aantreklike oupa’ se pragtige glimlag op 66 jaar oue foto oorrompel die internet