Cher glo haar oorlede eks spook by haar.

Cher (67) glo Sonny Bono, wat in 1998 oorlede is, bak haar poetse.

Gevra of sy bang is vir geeste, het die Believe-sangeres Saterdagaand tydens ’n openhartige vraag-en-antwoord-sessie vir haar bewonderaars op Reddit.com geskryf: “Glad nie! Ek is mal oor spoke. Om die waarheid te sê, dink ek Sonny skakel ’n lig in my huis aan. Ek het ’n pragtige kandelaar wat hy aanskakel, selfs al is dit onmoontlik, soos wanneer daar nie krag is nie. Ek is mal oor spoke; ek verkies spoke bo sommige mense.”

Die popster het gerugte ontken dat sy Madonna haat. Sy het geskryf: “Ek het Madge nooit gehaat nie; ek het net gedink sy is ’n feeks. Ek het eintlik respek vir haar. Ek dink Madge is dalk een van die verstommendste kunstenaars wat ek ken.

“Ek hou nie van alles wat sy doen nie, maar sy ry altyd die kruin van die golf. Sy het altyd voor enigiemand anders nuwe neigings gesien, en het wonderlike video’s gehad. So, behalwe om te sê, ‘WTF if MDNA’ pla dit my nie.”