IN HAAR silwer sprokiesrok wat haar slanke figuur vlei en swierig tot op die vloer uitklok, lyk sy soos ’n bloedjong sanger.

Maar die stem wat Sun City se Superbowl vul, is ’n ou bekende vir die Skouspel- gehoor.

Dis immers al ’n volle 35 jaar sedert ’n skooljuffrou van Nigel die hele land laat saamsing het met haar treffer Ek Verlang na Jou. Sonja Herholdt het oornag ’n bekende naam geword.

Maar die blonde sangsensasie wat in die beginjare die treffers nes die eerbewyse ingeryg het, het ook in haar lang, roemryke loopbaan harde bene gekou.

Toe haar albumverkope begin daal, het sy met die vraag geworstel: Het die musiekbedryf en haar aanhangers haar dan vergeet?

Maar nou, ná ’n dekade van stilte sedert haar vorige CD, is sy met mening terug met ’n nuwe album, Pêrels, wat mense opnuut laat regop sit en saamsing.

Party meen dis haar beste nog.

Nadat sy die titelsnit by Huisgenoot- Skouspel 2010 gesing het, staan sy op die verhoog met trane in haar oë. In haar hand is die Huisgenoot-eerbewys vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek wat sy pas ontvang het, voor haar ’n gehoor van meer as 5 000 mense wat haar staande toejuig.

Die harlekyn kan weer lag.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 21 Oktober 2010.