‘n Kronkelpad van drie en ’n halwe decades in die Afrikaanse musiekbedryf lê agter haar. En so met die terugkyk kan Sonja Herholdt – vanjaar 58, kan jy glo? – duidelik die pieke van sukses in haar loopbaan sien.

Daar was haar eerste enkelspeler, Ek Verlang na Jou, wat in 1975 oornag goue status verwerf en van Sonja Herholdt ’n bekende naam in omtrent elke Afrikaanse huis gemaak het.

Daar was ook haar eerste Sarie-prys, in 1975, vir haar debuutlangspeler, Sonja. Dit was ook die heel eerste keer dat ’n nuweling Springbokradio se Sarie-prys vir beste vroulike kunstenaar kon verower.

Daarna het nog sewe Sarie-pryse en talle trefferplate gevolg. Ja, Sonja is waarlik ’n superster!

Sy onthou wel ook die dale wat ongelukkig op elke piek volg. Daar was die dag toe sy uitgevind het haar man was ontrou, en daarna die egskeiding.

Ook die dag toe sy besef het haar jongste is doof, en toe haar liedjieskrywer Anton Goosen besluit het om liewer net vir homself te skryf . . .

En dan daardie dag, skielik, toe sy besef het die aanhangers het van haar, hul eens geliefde blonde sangsensasie, vergeet.

Maar vir Sonja gaan dit elke keer oor die opstaan en nie die val nie. En daar is nog oemf in haar, belowe sy met haar kenmerkende lag waar ons hier voor die kaggel van die Brooklyn-teater in Menlopark, Pretoria, gesels.

In die laaste Rockyfliek aanvaar Rocky ’n boksgeveg teen ’n veel jonger en fikser ou en sy seun vra hom waarom hy dit doen. en Rocky antwoord: ‘Waarom moet ek ophou om te doen waarvoor ek lief is net omdat ek al een te veel verjaardag gevier het? Ek het nog iets hier binne.’”

Dan sê Sonja beslis: ‘‘ek het ook nog iets hier binne.’’

Een van die ietse is haar nuutste album, Pêrels, wat Maart vanjaar verskyn het. ‘‘dit voel eintlik of ek nou eers begin,’’ sê sy opgewonde en haar bruin oë glinster.

En jy sal maklik so na haar kyk en Dink sy is nog maar ’n jongeling. Sy lyk nog nes almal haar onthou – klein, fyn, met dieselfde blonde veertjieshare wat haar gesig omraam. Haar stem is steeds klokhelder en sy is die ene energie.

‘‘Jy weet, baie mense sê Pêrels is my beste album nog,’’ sê sy vol selfvertroue.

Want met die tyd kom immers ervaring en Sonja glo ná 35 jaar weet sy nou eers presies wat sy doen.

Lees die volledige artikel in die lente-uitgawe van Tempo

[gallery link="file" order="DESC"]