’n Hond is mos ’n mens se beste vriend, maar Rusty en Birdie wys dat selfs die mees onwaarskynlike vriende ook onafskeidbaar kan wees.

Rusty is ’n bokser wat halsoorkop bevriend geraak het met Birdy, ’n babavoëltjie wat wees gelaat is.

“Ek het hom opgewonde hoor blaf, asof hy ’n kat ontdek het,” verteI Jurgita Peciulaityte, die tweejarige Rusty se eienaar.

Dié 34-jarige was besig om in haar houtwerkswinkel op die dorpie Minister op die Isle of Sheppey in England te werk toe sy ’n klein voëltjie opmerk wat uit ’n nes geval het.

“Hy kon skaars vlieg,” onthou sy. “Toe ek by hom kom, het die voëltjie sy bekkie oop gemaak. Ek het ’n paar erdwurms gekry, wat hy vinnig afgesluk het.”

Jurgita het die baba swartvoëltjie, wat sy Birdy gedoop het, ingeneem. “Van dag een af het Rusty en Birdy oor die weg gekom,” onthou sy. “Birdy is altyd op soek na geselskap en warmte en Rusty is meer as bereid om daarmee te help.”

Sy vertel Birdy begin soggens te tjirp en dan maak Rusty haar wakker sodat sy vir hom en sy gevlerkte vriend kan kos gee.

“Hy het so ’n vrygewige hart. Birdy se gunsteling-plek om te sit, is op die ruglening van Rusty se stoel. Soms ry hy ook op die sagmoedige vierpoot se rug of kop rond, want hy kan nog nie vlieg nie.”

Hierdie besonderse diere-vriendskap het diereliefhebbers in vervoering. Jurgita het ’n spesiale Facebook-blad vir haar troeteldiere geskep waarop sy gereeld van hul avonture vertel.

“Rusty werk baie sag met die voëltjie,” vertel sy verder. “Hy gaan ’n hartseer hondjie wees as sy vriend eendag besluit om sy vlerke te sprei.”

Jurgita het haar plaaslike dierebeskermingsorganisasies gebel oor Birdy, maar hulle het haar ingelig dat solank die voël nie ’n bedreigde spesie is nie, raak hulle nie betrokke nie.

Kundiges waarsku egter dat as ’n mens ’n babadier help wanneer dit in die moeilikheid is, kan dit erge gevolge vir die diertjie inhou omdat hy moeilik gaan aanpas in die natuur.

Daarom word die publiek gevra om eerder eers by ’n kundige aan te klop om te hoor wat jy mag of nie mag doen of nie. Voëls kan ook gevaarlike parasiete dra wat skadelik is vir honde.

Maar dié twee het duidelik nie ’n saak daarmee nie. Rusty help ook vir Birdie met oefeninge buite in die tuin waar die voëltjie vanaf Rusty se kop tot op die lae takke van bome en struike kan spring.

In ’n video op Jurgita se Facebook-blad speel Birdie wegkruiperjie met Rusty. In ’n ander een lê die pêlle ’n uiltjie en knip.

Tog sê Jurgita sy sal aan die einde van die dag verkies dat Birdy sy vlerke moet sprei en die wye wêreld moet invaar. “Maar dit sal ook lekker wees as hy in my tuin bly en gereeld by Rusty kom speel.”

Bronne: express.co.uk, facebook.com/RustyTheGentleGiant, huffingtonpost.com, petcha.com.