Binne ’n maand gaan hierdie heeltemal sonaangedrewe vliegtuig ’n vyf maand lange reis om die aarde begin.

Sonpanele op die vliegtuig se vlerke en romp gaan gebruik word om vier reuse battery aan boord te herlaai. Hierdie batterye is so swaar dat ’n kwart van die gewig van die hele vliegtuig daaruit bestaan. Daarmee word die vliegtuig se vier enjins aangedryf.

Daar word gehoop om ’n snelheid van tot 140 km/h met die Solar Impulse 2 te bereik.

Dit gaan die eerste keer wees dat ’n volkome sonaangedrewe vliegtuig gaan probeer om oor die Stille en Atlantiese Oseaan te vlieg. Die voorganger van die Solar Impulse 2, die Solar Impulse 1, kon net daarin slaag om oor kontinentale Amerika te vlieg.

Tydens hul reis gaan die vliegtuig se twee loodse, Bertrand Piccard en André Borschberg, meer as 35 000 km aflê en meer as 500 uur in die lug deurbring. Die vliegtuig is so ontwerp dat dit tot vyf dae kan vlieg sonder dat dit een keer hoef te land.

Luidens berigte gaan die Solar Impulse 2 volgende maand in Aboe Dhabi opstyg en eindelik weer daar land nadat dit om die aarde gevlieg het.

Betrokkenes by die projek meen dit word nie aangepak om sonaangedrewe vliegtuie ’n kommersiële werklikheid te maak nie, maar om aan die wêreld te bewys wat is tegnologies moontlik.

Bronne: WIRED.COM; SOLARIMPULSE.COM