Jy dink dalk dit raak jou nie, jy kan die chaos wat in die Parlement afspeel, nie verduur nie en het eerder oorgeskakel en ’n dramareeks op die betaalkanaal gekyk as om jou te vervies vir die wanordelike gedrag en optrede wat tydens pres. Jacob Zuma se staatsrede aangegaan het.

Maar jy moet kennis neem, maan bekende joernaliste. Huisgenoot se Danél Blaauw het by Ferial Haffajee, redakteur van City Press, en Max du Preez, skrywer en joernalis, en Johann Maarman, adjunkredakteur van Die Burger, gaan aanklop. Hulle het drie hoogtepunte van die aand uitgelig en verduidelik waarom mense juis daarvan moet kennis neem.

[caption id="attachment_117604" align="alignnone" width="600"]Max du Preez (Foto: Facebook) Max du Preez (Foto: Facebook)[/caption]

MAX DU PREEZ SÊ

“Dit het baie duidelik uitgestaan hoe oninspirerend die president was en watter gebrek aan visie hy het,” verduidelik Max die eerste punt wat kop bo water vir hom uitgestaan het.

“Tweede was die noodsaak vir onkonvensionele taktiek deur die EFF om met die huidige omstandighede te deal. Hulle het Donderdagaand die president en die regerende party geteister en ondermyn, want dit is wat ons nuwe politiek vra – onkonvensionele metodes. Ons het nie meer ’n parlement waar elke mens sy stem kan laat geld nie.

“Myns insiens was die chaos wat die EFF veroorsaak het deels noodsaaklik, asook die Cope-leier, Mosiuoa Lekota, se standpunt. (Mosiuoa het pres. Zuma onderbreek kort nadat hy sy toespraak begin lewer het en onder meer gesê: “He broke his oath of office. He is no longer honourable. He is no longer fit to lead . . .”

“Sy (Mosiuoa) se optrede was legitiem,” meen Max. “Dit is tekenend van die soort politiek wat deesdae geld.”

Wat laastens vir hom uitgestaan het, is dat 2016 net oor die ekonomie gaan. “En die mag oor die ekonomie is van Zuma weggeneem.”

“Mense moet hiervan kennis neem, want die land is in ’n krisis, en wat die regering en die parlement oor die ekonomie besluit, gaan ons almal ten nouste raak.”

[caption id="attachment_117607" align="alignnone" width="600"]Ferial Haffajee (Foto: Twitter) Ferial Haffajee (Foto: Twitter)[/caption]

FERIAL HAFFAJEE SÊ

“Die soustrein moet gestop word. Elke belastingbetaler betaal baie vir daai soustrein. Dit sou wonderlik gewees het as daardie geld eerder aan werklose en arm Suid-Afrikaners kon gaan.”

’n Sin wat haar getref het, was toe pres. Zuma gesê het die kernkragaanleg en -planne sal net voortgaan as bewys word dit is moontlik . . . “Dis nie moontlik nie, so dis onwaarskynlik dat dit gaan gebeur.” Pres. Zuma se roekelose hande op openbare geld het mense warm onder die kraag en dit was duidelik in die staatsrede.

“Die derde ding wat my getref het, is hoe stylvol Suid-Afrikaners is,” sê Ferial op ’n ligter noot. “Ek bedoel, kyk net na van die uitrustings. Ek dink die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, was uiters stylvol en het sterk en doelgerig gelyk – eienskappe wat jy in baie Suid-Afrikaanse vroue kry.”

[caption id="attachment_117606" align="alignnone" width="600"]Johan Maarman (Foto: Facebook) Johan Maarman (Foto: Facebook)[/caption]

JOHANN MAARMAN SÊ

Johann sê dis so duidelik soos daglig dat Pravin Gordhan, minister van finansies, die banjo speel en Zuma die rieldans doen. “Gordhan het die staatsdiens op ’n nuwe dieet gesit en die politieke banting waarvoor Zuma en sy kohorte so lief is, word nou vervang met gewone politieke blaarslaai, komkommer en tamaties: dus gesonde finansiële voedsel. Die vraag is net: Hoe lank gaan die regering die dieet kan volhou voor hulle weer in hul slegte gewoontes verval.”

’n Tweede punt wat hy uitlig, is dat die president hoop opgegee het oor die bou van ’n nuwe kernkragsentrale. “Maar dit is duidelik dat Gordhan dit onomwonde gestel het: of Rusland en China nou politieke tjommies van Zuma is, hy wat Gordhan is voel vere.”

“Kernkragsentrales sal gebou word teen ’n pas wat die land se sak sal pas en nie om invloedryke ontwikkelde lande of donateurs van die regerende party te bevoordeel nie. Gordhan sny dus die kernkragkleed volgens die lap wat hy beskikbaar het.”

Johann sê in tye van wanhoop, moet leiers hoop bring. “Nenegate is nie eens genoem nie en dit nadat hierdie dwase besluit amper ons spaarvarkie uitgeput het.

“Dit is verkiesingsjaar en Zuma het sy kaarte mooi gespeel deur te sê die staatsdiens moet die gordel stywer om die lyf trek. Maar wat van Nkandla? Wat van die nuwe peperduur presidensiële straler wat op die inkopielys is? Hy kon maar seker eers voor sy eie deur begin vee het.

“Die kwessie of daar een hoofstad vir die land moet wees, is ’n vreemde een. Daar is regtig ander maniere om geld te bespaar. Onthou, as dit na Pretoria skuif, moet daar ’n klomp geld wees vir baksteen en sement. Wat hy wel kon gedoen het, is om sy kabinet te verklein. Dit sou darem ’n beduidende duik in ’n malvalekker gemaak het.”

Kyk pres. Jacob Zuma se Staatsrede

Ander stories op Huisgenoot.com

Karlien van Jaarsveld kuier vanaand in 7de Laan

Kyk: Gys de Villiers ontsenu in nuwe rillerprent

Kyk: Suzelle se Valentynsplanne loop liederlik skeef

Eksklusief: Simon Rademan sê sy sê oor die modes van #SONA2016