Wanneer moet jou kind soliede kos begin eet?

Dr. Megaw sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne sê dit kan op sowat ses maande oud gebeur. “Tot dan beveel hulle slegs borsmelk aan,” voeg sy by.

Sy sê dit word ten volle deur mediese praktisyns ondersteun, maar daar is ook bevind dat dit veilig en doeltreffend is om die baba tussen vier en ses maande oud aan soliede kos voor te stel terwyl hulle nog borsvoed.

Volgens dr. Megaw is daar vier tekens dat jou baba gereed is vir soliede kos:

  • Ouderdom: “Begin soliede kos van 17 weke af oorweeg, en ná die ouderdom van ses maande moet jy glad nie huiwer om dit aan hulle voor te stel nie.”
  • Ontwikkeling: “As jou baba sonder ondersteuning regop kan sit en hul eie kop kan ophou, kan jy dit begin oorweeg.”
  • Groei: “As jou baba ’n gesonde groeikurwe volg en dan ’n insinking beleef, is dalk ’n teken dat hulle meer kalorieë nodig het.”
  • Belangstelling: “As jou baba aan jou kos blootgestel word en daarna gryp of dit dophou, is dit tyd.”

Spring weg

“Begin met een kossoort, soos patat of peer, en binne ’n paar dae kan jy ’n tweede en ’n derde een voorstel. Probeer tot twee maaltye en twee porsies groente of vrugte in die eerste week inbring; voeg dan in die tweede week elke dag ’n nuwe vrug of groente by,” sê dr. Megaw.

“Vrugte en groente is maklik om te verkry en te berei, dit werk sag in op jou baba se verteringstelsel en help hardlywigheid voorkom.”

Die beste eerste kosse

Dr. Megaw stel voor:

  • Soetpatat
  • Botterskorsie
  • Wortels
  • Skorsie
  • Pere
  • Appels
  • Mango

As jy babageleide spening toepas (waar die baba hulself kan voer en jy kos is stukke pleks van fyn bied), kan jy groot, sagte stukke berei, soos gestoomde botterskorsie. Vir professionele spening (waar jy die kos in pureevorm met ’n lepel aanbied) kan jy dié kosse fynmaak.

Wanneer om graan in te bring

“Graankosse soos rys, pap, hawermout, manna, spelt en mielies kan later ingebring word wanneer jy drie maaltye daagliks begin aanbied. Hierdie kossoorte moet so natuurlik moontlik wees met geen bygevoegde koeimelk, proteïen of sojaproteïen.

Moet ryspap in ’n bottel toegedien word?

Dr. Megaw raai dit af. “Dit kan hardlywigheid veroorsaak omdat dit die melk en gevolglik die stoelgang verdik. Dit kan ook veroorsaak dat party babas minder melk inneem omdat dit hulle te vol maak. In hierdie stadium is melk nog die belangrikste en bevat baie meer voedingstowwe as ryspap. Derdens en baie belangrik kan dit die risiko vir vetsug en oorvoeding verhoog. Dit is dus nie iets wat ek aanraai nie.”

Wat van allergieë?

Terwyl party mense dink dit is wys om tydens die inleidende fase weg te bly van kossoorte wat allergieë kan veroorsaak, soos koeimelk, eiers en koring, sê dr. Megaw onlangse navorsing toon dat dit goed kan wees om kosse wat die proteïen bevat wat allergieë kan veroorsaak teen sowat ses maande voor te stel – solank jy dit nie voor vier maande doen nie.

“Ons verstaan nou meer oor allergieë as in die verlede. Om dié kosse te weerhou kan nie allergieë voorkom nie, maar kan kieskeurige eters skep. As jou baba ouer as vier maande is en aan soliede kos voorgestel is, kan jy hulle alle kosse voer. Stel die kosse wat allergieë veroorsaak een vir een voor en laat drie dae tussenin. Dit sluit in vis, eier, hoender en ander proteïenryke vleissoorte soos beesvleis en lamsvleis, neutpastas grondboontjiebotter, koring en sojaproteïen. Jy moet hierdie kosse altyd by ontbyt of middagete voorstel

Hoe groot moet die porsies wees?

Dr. Megaw stel voor dat jy een tot twee teelepels kos ná ’n borsvoed voer, en sodra die maaltye groter word, kan jy drie tot ses teelepels per maaltyd gee. As jy babageleide spening doen, kan jy een of twee stukkies vrugte of groente gee. Wissel die melk en kos met twee uur af.

“Begin met een maaltyd per dag sowat drie dae lank; skuif dan na twee en dan drie maaltye per dag. Dié wat babageleide spening toepas, kan die kos bied wanneer hulle self eet, by al drie maaltye.

Dr. Megaw se topwenk

Begin altyd by ’n gelukkige tyd van die dag. “Onthou, dit is ’n leerervaring, een wat tyd en geduld van jou gaan verg; julle moet albei ontspanne en gelukkig wees. Jou baba moenie vaak of honger wees nie omdat dit hulle kan ontstel; dit is baie belangrik dat dit ’n prettige, interaktiewe proses is.”

Water en ander vloeistowwe

“Water kan aan die begin ingebring word, ná die klein, soliede maaltye voorgestel word. Dit kan in ’n bottel, suigbeker of selfs van jou eie glas gegee word. Sowat 10-30 ml ná elke maaltyd is al wat jou baba nodig het. Vermy vrugtesap so lank moontlik, want dit veroorsaak tandbederf en vetsug. Rooibostee kan rondom sewe maande ingebring word wanneer jy vingerhappies voorstel en moontlik minder borsvoed.”

Onthou

“Of jy die skilderagtige roete of die hoofweg volg, is die belangrikste ding dat jy die reis geniet en as jy dit doen, gaan jy jou bestemming bereik: ’n gelukkige baba wat ’n verskeidenheid kosse geniet!”

- Dalena Theron