Lise Brink, vrou van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. is steeds in intensiewe sorg.

“Haar toestand is kritiek maar stabiel”, sê Ernst Vorster, woordvoerder van Helpende Hand.

“Danie waak langs haar bed in besoektye en doen verder sy bes om hul kinders, Mieke (15), Johann (10) en Daniël (2), te ondersteun.”

[caption id="attachment_151155" align="aligncenter" width="500"]Die Brink-gesin. Foto: Verskaf Die Brink-gesin. Foto: Verskaf[/caption]

Lise se linkerbeen is Donderdag onder haar knie geamputeer nadat sy ernstig beseer is tydens ’n ongeluk net buite Theunissen verlede Vrydag. Die ongeluk het die lewens geëis van Rachel (8) en André (13),twee van die Brinks se vyf kinders.

’n Verklaring uitgereik deur Helpende Hand bevestig dat Lise Vrydag ’n tracheostomie (’n snit in haar lugpyp om asemhaling te vergemaklik) ondergaan het, sodat die beserings aan haar gesig behandel kon word sonder dat die suurstofpype haar genesing belemmer.

Spesialiste sal haar toestand monitor voordat hulle besluit om voort te gaan met ’n dringende rugoperasie en kaakchirurgie.

“Dit mag moontlik nog op Kersdag plaasvind”, sê Ernst.

Ernst bevestig ook dat die gesin Kersdag in hul huis in Groenkloof in Pretoria sal deurbring en dat ’n gesamentlike poging deur vriende, familie, hul gemeente en personeel van Helpende Hand sal verseker dat hulle ’n behoorlike Kersete geniet.

Helpende Hand het ook besluit om ’n spesiale ongelukondersteuningsfonds te stig vir slagoffers van motorongelukke.

Dit kom nadat talle mense aangebied het om die Brink-gesin finansieel te ondersteun. Dit staan as die André en Rachel Brink-ondersteuningsfonds bekend, ter nagedagtenis aan die twee Brink-kinders wat oorlede is.

Mense wat wil bydra, kan geld inbetaal met die verwysing: “Brink” by die rekeninghouer: Solidariteit Helpende Hand; FNB; Tak: Centurion, takkode: 261550, rekening: 62331445503.