Hy was as die Sonkoning bekend, Suid-Afrika se eie Donald Trump. Hy was die biljoenêr wat soos ’n wafferse Midas die geld laat inrol het, want hy het die slag gehad om die wildste drome waar te maak.

Maar ná byna ’n halfeeu in die hotelbedryf lyk dit of Sol Kerzner se drome nou in ’n nagmerrie begin ontaard.

Die hotelmagnaat wat eens beskou is as Suid-Afrika se rykste man wat self sy fortuin verdien het, staan nou aan die hoof van ’n ryk met $3 biljoen (sowat R21 biljoen) se skuld – dis meer as die bruto binnelandse produk van party klein landjies in Afrika.

Dit gaan trouens só sleg in die sonkoning se sakeryk dat hy krisismaatreëls moes tref en volgens berigte oorweeg hy selfs om van die oorde in die groep te verkoop, ook die glansryke One&Only-hotel in Kaapstad.

Maar hoe het Sol, wat as die stigter van Sun City eens gelyk het of hy ’n lisensie het om geld te druk, so diep in die pekel beland?

Kortom: Dit lyk of hy hoër gevlieg het as wat sy vlerke lank was.Hy was nog nooit iemand wat dinge halfhartig aangepak het nie, en in die afgelope paar jaar het hy nuwe hotelle geopen en geld uitgegee asof geen einde in sig is nie.

En wanneer hy lenings nodig gehad het, was daar geen tekort aan mense wat bereid was om die kans te waag nie.

In 2006 het hy en ’n groep beleggers $2,7 biljoen (R18,9 biljoen) betaal om Kerzner International Resorts te koop, dit ’n privaat maatskappy te maak en vandie NewYorkse aandelebeurs te verwyder.

Toe verstom hy die wêreld met sy mees ambisieuse hotelontwikkeling die afgelope paar jaar: die bou van die Atlantis-oord van $1,5 biljoen (R10,5 biljoen) op Palm Jumeirah, ’n mensgemaakte eiland in die vorm van ’n palmboom aan die kus van Doebai.

Met die opening in 2008 het Sol $16 miljoen (R112 miljoen) uitgehaal en 2 500 gaste drie dae lank gul onthaal, onder wie Oprah Winfrey, Charlize Theron en Denzel Washington. Die hoogtepunt was ’n vuurwerkvertoning sewe keer groter as die een waarmee die Olimpiese Spele in 2008 in Beijing geopen is.

Maar net maande later het alles saam met die wêreld se geldmarkte in duie gestort. Hotelkamers het leeg gestaan en die Palm Jumeirah, waar Sol toe nog ’n oord aan die bou was, het soos ’n spookdorp gelyk.

In 2009 het hy die One&Only in Kaapstad geopen, maar toe al moes die personeel verminder word.

Nou, twee jaar later, gaan dit nog nie beter met sy hotelle nie en sy skuldeisers se geduld is besig om op te raak.

Hy was veronderstel om verlede jaar die meeste van sy maatskappy se skuld te delg, maar moes uitstel vra. Nou moet hy in September met $2,6 biljoen (R18,2 biljoen) vorendag kom.

Lees meer in die Huisgenoot van 26 Mei.

Volg Huisgenoot op Twitter