Dis ’n groot uitdaging om jou baba in ’n goeie slaaproetine te kry. Kenners gee raad oor watter rol slaapafrigting kan speel

Toe ons op ons Facebook-blad ma’s vra of hulle slaapafrigting gebruik, was hul reaksie uiteenlopend. “Nee, my kinders slaap tussen mamma en pappa tot hulle gereed is om na hul eie kamer te gaan,” sê Milay Botha.

Maar Theresa van Zyl meen slaapafrigting “werk soos ’n bom”.

Sy vertel: “Ná die vierde nag het my babadogter sonder huil aan die slaap geraak. Elke aand was die gehuil minder.”

Ons het by kenners gaan aanklop om te hoor wat slaapafrigting behels en watter gevare dit kan inhou.

Hoekom is slaap belangrik?

Babas en kleuters wat snags 10 tot 12 uur ononderbroke slaap, is uitgerus en gelukkig, verduidelik Jacqui Flint, ’n slaapkenner en die eienaar van Baby Love, ’n maatskappy wat ouers roetine- en slaapleiding gee.

“Hulle bereik hul mylpale, eet goed en hul wakker tyd is goeie gehaltetyd waarin hulle reg is om gestimuleer te word en om te leer.”

Ouers het hul slaap ewe nodig.

“Omdat ouers uitgerus en gelukkig is, is hulle minder ongeduldig, kan hulle by die werk funksioneer en ook as maats en ouers.”

Hoekom sukkel babas om te slaap?

Koliek, refluks en siektes kan ’n rol speel, ook as ’n baba slaap vereenselwig met iets soos borsvoeding of ’n gewieg.

As die kind te koud of warm kry, ongemaklik lê of te veel stimulante soos suiker, kafeïen en preserveermiddels inkry, kan dit Klaas Vakie weghou.

Wat is slaapafrigting?

Slaapafrigting is wanneer jy jou kind leer om homself te sus, sonder hulp aan die slaap te raak en sy slaapsiklusse aan mekaar te koppel sodat hy nie kort-kort wakker word nie, verduidelik Jacqui. Daarvoor moet die kind die boublokke vir goeie slaap kry.

“Dit is ’n kombinasie van veranderinge van voeding, roetine en omgewing.”

Dit begin nie eers met slaaptyd nie, maar by ’n dagroetine gepas vir sy ouderdom, sê Petro Thamm, ’n direkteur van die slaapberadingsdiens Good Night en die besturende direkteur van die Internasionale Vereniging van Professionele Slaapkonsultante.

Met slaaptyd moet jy sorg dat jou kind versadig is, ’n rustige slaapomgewing skep en slaap-“krukke” wegneem waarsonder jou kind sukkel om vanself aan die slaap te raak, soos ’n bottel. (’n Teddiebeer of kombersie is ’n goeie slaapassosiasie en word toegelaat.)

Sodra hulle geleer het om daarsonder klaar te kom, sal hulle as hulle snags wakker word weer self aan die slaap kan raak, verduidelik Petro.

Twee uur voor slaaptyd moet jy ook sorg dat die kind minder blootgestel word aan blou lig,soos dié van televisiestelle, skootrekenaars en selfone.

“Probeer vyf minute stiltetyd skep voor jy jou baba in sy bed neerlê,” is Jacqui se raad.

“Hou hom weg van stimulasie, verlaag jou stemtoon, sê die baba se naam, probeer oogkontak vermy en gee hom ’n ‘slaaptydvoorwerp’ soos ’n fopspeen.”

Slaapafrigting moet holisties benader word, pleks dat ’n mens klem lê op enkele faktore, meen Petro.

“Die grootste wanopvattings het ontstaan omdat ouers die verkeerde metodes volg, soos om ’n huilende kind net te los sonder dat hulle begrip of kennis het van ’n holistiese perspektief.

Om net ’n kind te los om te huil sal hom op sigself nie beter laat slaap nie.”

Wat is die gevare?

’n Baba wat wakker word en huil, moet weet hy is nie alleen nie – dit geld veral vir kinders onder 18 maande, sê prof. Astrid Berg van die Universiteit van Kaapstad se afdeling vir kinder- en adolessentepsigiatrie.

“As slaapafrigting beteken jy vestig ’n ritme en roetine, is dit doodreg. Maar as dit beteken jy laat jou kind lang tydperke aaneen huil, is dit onaanvaarbaar en gevaarlik,” sê sy.

“Dit word ’n stresvolle ervaring vir die kleinding. As dit herhaal word, kan meer streshormone vrygestel word en dit is nie goed vir sy verstandelike ontwikkeling nie.”

Ouers moet op hul eie gevoelens let en instinktief reageer, sê sy. “Dit druis teen die natuur in om ’n kleintjie te laat huil sonder dat die ouer teenwoordig is.”

Wanneer ouers hul kind troos, moet hulle nie iets doen wat stimulerend kan wees nie, soos om te begin speel. Sing vir hom of gee hom ’n ligte kloppie op die rug, ’n fopspeen of enigiets wat bekend en kalmerend is. Tree sover moontlik dieselfde op elke keer dat die kind wakker word.

Kry hulp

As jy op soek is na raad oor slaapafrigting, kan jy verskeie kenners raadpleeg. Party sal jou selfs by jou huis wys hoe om jou baba te laat insluimer. Besoek www.babylove.co.za en www.goodnightbaby.co.za vir nog inligting of ’n privaat beradingsessie.

-        Suzaan Hauman