Omgewingsbewustheid is hoogmode, maar ’n soesji-restaurant in Colorado het dié neiging heel uniek benader.

Die soesji-restaurant Hapa het gewone kos-en-wyn-pasmaats letterlik tot nuwe hoogtes gevoer deur die wyn met dagga te vervang.

Vandat marijuana se verkoop en gebruik op 1 Januarie vanjaar in dié Amerikaanse staat gewettig is, het die restaurant ’n reeks daggavariante as voorgestelde pasmaats saam met geregte begin bemark.

Besoekers kan kies tussen alles van ’n garnaalgereg wat gepaar word met Kush-marijuana uit Pakistan, of ’n kerrie wat met bypassende Blue Dream-dagga aanbeveel word.

Dié projek is deel van die groep se Happy Legalization-reklameveldtog, en het wyd reaksie op sosiale media ontlok.

Tog kan restaurantgangers nie die kombinasies op die perseel self beproef nie omdat Colorado-wetgewing daggarokery in die openbaar verbied.

Volgens Huffington Post sê Jonathan Schoenberg van TDA Boulder, wat die veldtog bestuur, baie moeite is gedoen met die kombinasies en party is eg.

Die restaurant doen ook sedert 2009 ’n beroep op daggarokers om by hulle te kom eet wanneer hulle honger raak ná ’n rokie, maar stel klante gerus dat die restaurant so ontwerp is dat dit “paranoia voorkom”.

Ekstra bronne: Huffington Post, Daily Mail UK