"Ons het hom gevind, hy lewe, net baie deurmekaar," het René Bredenkamp kort voor 12:00 Dinsdag op Facebook die verblydende nuus oor Rassie Erasmus gedeel.

Sy sê hy is in die berge gevind op die plaas waar sy bakkie vroeër vanoggend gevind is.

Vroeër vandag

Ané Bredenkamp het ’n pleidooi gerig aan enigiemand wat haar vermiste oupa, Rassie Erasmus, gesien het, om haar te kontak.

Rassie is 78 jaar oud en ly aan Alzheimersiekte. Hy is baie deurmekaar, het Ané gesê.

Hy het op Saterdag 22 Julie omstreeks 06:00 vermis geraak in Hartenbos, waar hy woon.

Rassie is Sondagoggend omstreeks 00:30 vir die laaste keer by Beaufort-Wes gewaar.

Sy wit Toyota-bakkie is vroeg Dinsdagoggend op ’n plaas sowat 50 km buite Beaufort-Wes op die Oudtshoorn-pad gevind.

“Ek het op die boerevereniging se WhatsApp-groep gesien hulle soek in hierdie omgewing na Rassie. Ek het my werkers daaroor ingelig,” het Fanie Bailey, ’n boer van die omgewing, aan Huisgenoot.com gesê.

“Vroegoggend het my voorman my laat weet Rassie se bakkie staan op ons plaas. Dit was gesluit. Ons verneem hy het by 'n padstal petrol gaan soek, maar hulle het net diesel gehad. Hy (Rassie) moes toe seker met die bakkie gaan staan en verder geloop het.”

Die polisie het ’n taakspan saamgestel wat na Rassie soek.

Enigiemand met inligting kan Ané by 082 374 5203 of die naaste polisiekantoor bel.