Slegte weer het die soektog bemoeilik en dit moes laatmiddag voorlopig gestaak word. Donderdag is die soektog na hom weer voortgesit in die omgewing waar sy fiets gevind is.

Michael, verbonde aan die Motherwell taktiese reaksie-eenheid en ’n kranige fietsryer, se vrou het hom Sondagaand laas gesien. Van die bure het gesê dat hulle het Maandagoggend (Werkersdag) iemand geklee in fietsryklere die gesin se huis sien verlaat.

Michael het nooit teruggekeer huis toe nie.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Michael se verdwyning word steeds ondersoek.

“Hy word nog vermis,” het sy bevestig.

Die Pink Ladies is ook betrokke by die soektog, maar Dessie Rechner, stigterslid en direkteur van die organisasie, wou nie uitwei oor Michael se verdwyning nie.

“Ek kan nie kommentaar lewer oor ’n saak wat steeds ondersoek word nie,” het sy gesê.

Volgens Michael se broer, Willem, is die familie baie bekommerd oor Michael.

“Hy sou seweuur Maandagoggend die predikant gaan help het om goed te laai," vertel Willem, "maar het nooit opgedaag nie.”

Die plaaslike radiostasie Algoa FM het intussen berig dat nog ’n man van die Baai vermis word. Mark Oberholzer (35) is glo sedert Saterdag weg.

Enigiemand wat inligting het, word versoek om die Kabegapark-polisiekantoor by 041-397-6801/02 te bel.