Tog sê sy kamp hierdie is bloot die begin van die veranderinge wat Solly in werking wil stel.

"Hierdie is maar die puntjie van die ysberg. Daar gaan nog hope nuwe hervormings en strenger reëls aangekondig word," het sy woordvoerder, Matthew Gerstner, aan Huisgenoot gesê.

"Ons wil oorbodige uitgawes en politici se voordele ook verder snoei."

Hoewel hulle nog nie kan bekendmaak presies watter nuwe maatreëls die burgemeester wil instel nie, kan Matthew bevestig dat die oorgroot staatsadministrasie in Tshwane heroorweeg gaan word sodat die personeel meer vaartbelyn kan wees en dat werknemers wat onder disiplinêre hersiening is se verhore spoedig afgehandel word.

"Ons wil ook die munisipaliteit se kontrakte vir dienste in die metro behoorlik ondersoek, naamlik dié vir die Smart Meter-elektrisiteitsmeters, die breëbandinternet-verbinding, die vlootbestuur sowel as die kontrak vir gratis Wi-Fi." Watter veranderinge het Solly reeeds gemaak? Ampsmotors wat met blou ligte deur die stad jaag is amptelik iets van die verlede. "Al persoon wie blou ligte mag hê, is die president. Die dae waar staatsamptenare glo hulle is "VIP's", is verby."

Hy het ook die luukse motors waarmee politici hulself ten koste van belastingbetalers toegerus het, stop gesit. Duur motors soos dié van BMW was gewild, maar Solly sê "'n Huandai i20 of Toyota Corolla kan dieselfde werk as 'n peperduur sedan doen".

Solly ry met sy voorganger se tweedehandse motor en hy het die duur BMW-voertuie wat deur sy voorgangers vir die Tshwane-bestuurslede aangekoop is aan die metropolisie geskenk vir gebruik in hul teenkapingsgeenheid.

Staatsamptenare gaan ook nie meer na hartelus oorsee kan kerjakker nie, want Solly het 'n moratorium op alle buitelandse reise geplaas en gesê slegs dié wat aansoek doen en behoorlik kan staaf waarom hulle die buiteland moet besoek, sal toegelaat word om te gaan. "Buitelandse reise het wel voordele vir handel en beleggings, maar dié kultuur van na al wat 'n konferensie en partytjie reis, gaan nie onder my regering toegelaat word nie." Dis nie net buitelandse feesvieringe wat stopgesit word nie, maar ook plaaslike feestelikhede soos inhuldigingsfunksies, sake-etes en duur geleenthede. "Ons moenie meer hope geld op kos en partytjies vir politici uitgee nie."

Hy het boonop verlede week klagtes teen drie munisipale entiteite en drie voormalige lede van die metro se ANC-administrasie ingedien, onder meer vir die wanbesteding van openbare geld en korrupsie en bedrog. 'n Ondersoek is ook geloods nadat dit bekend geword het die voormalige ANC-bestuur het versuim om vir hul munisipale dienste te betaal. Nou kom die groot toets: Hoewel Solly geprys word vir sy pro-aktiewe optrede om onnodige besteding en korrupsie te bekamp, is dit duidelik sy vuurdoop is nog lank nie verby nie en dat hy homself nog moet bewys.

Die EFF het dit duidelik gemaak hulle gaan die stryd om grondhervorming aanhou voortsit en het die DA juis dié week herinner dat hulle slegs mag in Tshwane het omdat die EFF hulle gesteun het. "Ons sê vir die DA, probeer so iets (om grondhervorming teen te werk) met ons, en ons sal julle heerskappy hier beëindig. Onthou, julle het nie met 'n volslae meerderheid gewen nie," het die EFF se Mandisa Mashego aan The Citizen gesê.
Daar is ook druk op die DA om die name van strate in Tshwane te verander, soos dié van Pretorius Straat, en Solly en sy span sal tot 'n vergelyk moet kom met inwoners en ander partye wat hulle hiervoor bewyer.

Nes in menigte ander provinsies is dienslewering in Tshwane 'n groot kopseer en sal die DA die mas moet opkom wat die voorsiening van basiese dienste soos openbare vervoer, sanitasie en water en elektrisiteit betref.

"Ek wil ontslae raak van korrupte elemente binne ons strukture en het nodig dat my amptenare en raadslede 'n dokument teken waarin almal onderneem om verantwoordbaar gehou te word," het hy vroeër aan TimesLive gesê.

"Dienslewering sal ook aandag kry en ek sal sorg dat dit 'n kernpunt is waarop ons fokus. Daar is probleme waar mense nie water of elektrisiteit kry nie. Ek sal ook ons finansies probeer regruk."

Inwoners moet onthou dat dit 'n lang proses is om 'n groot gebied soos Tshwane te hervorm, sê Matthew. "Solly moet eerstens mense wat baie lank lojaal was aan 'n ander party oortuig om hom te vertrou."

Waaraan moet burgemeester Solly Msimanga en ander leiers in Suid-Afrika aandag gee? Laat weet ons by mieke.vlok@media24.com