Die bekroonde aktrise wil skarefinansiering inspan om die rolprent, voorlopig getiteld Cut Out Girls, te maak.

Die film se mikpunt is om bewusmaking te skep oor verkragting, veral afspraakverkragting, en die verkragtingskultuur, luidens die skarebefondsingswebtuiste indiegogo.com.

[caption id="attachment_174360" align="alignnone" width="600"]Nicola Hanekom wil mense bewus maak van verkragting. Foto verskaf Nicola Hanekom wil mense bewus maak van verkragting. Foto verskaf[/caption]

Nicola sê hulle het genoeg geld vir drie weke se verfilming, maar hulle wil vyf weke skiet. “Hoe meer geld ons het, hoe langer kan ons verfilm en hoe meer skote kan ons kry.”

Die akteurs in die rolprent is mense met wie Nicola ’n lang pad stap by die filmakademie waar sy klasgee. Almal het reeds hul studie voltooi. “Hulle is so 20, 21 jaar oud, wat afspraakverkragting (vir hulle) meer skrikwekkend maak.”

Die rolprent beklemtoon die realiteit dat jou verkragter die laaste mens kan wees van wie jy so iets verwag.

In 2016 is 1,4 miljoen mense in Suid-Afrika verkrag. “Dit is nie net ’n statistiek nie, dit is ons realiteit. Dit beklemtoon net hoe algemeen geweld teen vroue is en hoe dit onwillekeurig deel geword het van ons alledaagse lewe,” lui ’n inskrywing op die webtuiste.

Tien persent van alle wins van die film sal gaan aan Rape Crisis, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat slagoffers bemagtig en ondersteun.

Laat Maandagmiddag is nagenoeg R192 600 ($14,600) op die webtuiste ingesamel. Nicola het gesê hulle benodig nog sowat R200 000, onder meer vir salarisse en die huur van ’n bussie.