Dit klink dalk onmoontlik, maar danksy nuwe hologram-tegnologie het Michael nou die aand by die Billboard-musiekprysuitdeling “opgetree”.

Om ’n hologram te skep moet jy eerstens ’n objek of mens hê wat jy wil vasvang. Jy benodig ook ’n laserstraal wat jy op die objek kan skyn en ’n opnemer. Selfs ’n foto kan gebruik word om ’n hologram te skep.

Wanneer jy iets sien, vertoon dit driedimensioneel omdat jou linker- en regteroog die objek uit verskillende hoeke sien en jou brein ’n 3D-beeld kan saamstel uit hierdie beelde wat jou oë vasvang.

As jy byvoorbeeld na ’n appel kyk, gebruik jou oë eintlik die lig wat van die appel af weerkaats om die appel waar te neem. ’n Hologram flous jou brein deur die “appel” weg te laat, maar steeds die weerkaatste lig na jou oë te stuur. So neem jy steeds ’n appel waar.

Wanneer jy dus ’n laser skyn op die objek wat die hologram voorstel, versprei die lig op so ’n wyse dat jou brein glo hy sien die objek wat dit moet voorstel. En siedaar, so kry jy weer vir Michael Jackson te sien!

Bron: livescience.com, physics.stackexchange.com