[caption id="attachment_160198" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Moedertaalonderrig is nie net ’n belangrike hoeksteen vir kinders se opvoeding nie; dit kan hulle ook help voorberei vir die grootmenswêreld en hul toekomstige loopbaan.

Ons het met plaaslike mense gesels oor hoe hulle Afrikaans by hul loopbaan betrek.

“As taal jou werktuig is, soos vir my as ’naspirantjoernalis van skooldae af, is dit die heerlikste om in die taal van jou hart en gemoed te komponeer,” sê Ton Vosloo, oudjoernalis en voormalige nie-uitvoerende hoof van Naspers. Hy woon in Kaapstad.

[caption id="attachment_160205" align="alignnone" width="600"]Foto: Media24 Foto: Media24[/caption]

Hy sê omdat hy in die Afrikaanse joernalistiek in ’n Afrikaanse maatskappy geskryf en gewerk het, kon hy deel wees van die uitbou van Afrikaans op vele terreine, wat die taal gevestig het.

“Afrikaans was dus my koker met pyle, en ek kon daardeur help om belangrike koerante te vestig en die maatskappy later as sakeleier in en deur Afrikaans uitbou.

“My onderbou van Afrikaans het my gehelp om die groep ook in die buiteland te vestig, want ek het deur my moedertaal ’n stewige fondament en sekerheid van vertroue gehad.”

Hy sê ook moedertaalonderrig is besonder belangrik. “Hul moedertaal is vir enige kleuter die vaste bron waarop hy of sy ’n toekoms kan bou. As jy eers daardie anker het, kan jy die wêreld en sy diversiteit met vertroue in die oë kyk.”

Ook die plaaslike wynmaker Bartho Eksteen, wat onder meer die Hermanuspietersfontein-wynkelder op Hermanus begin het en onder die Wijnskool-etiket wyn maak, sê Afrikaans is vir hom so belangrik dat al die etikette op die Wijnskool-wynbottels net in Afrikaans gedruk word.

[caption id="attachment_160206" align="alignnone" width="600"]Foto: Wijnskool.co.za Foto: Wijnskool.co.za[/caption]

Dit is ook vir hom heerlik om sy wyn in lande soos Nederland en België in Afrikaans te bemark.

Haar Afrikaans is kleurryk, want sy hou daarvan om sover moontlik elke streek se Afrikaans deel te maak van die Afrikaans wat sy praat, vertel die aktrise en RSG-aanbieder Sue Pyler, ’n boorling van George.

[caption id="attachment_160208" align="alignnone" width="600"]Foto: rsg.co.za Foto: rsg.co.za[/caption]

“Die lewe in Johannesburg is grotendeels Engels, maar ek geniet dit om by die werk Afrikaans te praat. Elke kuier by my familie is heerlik, want dan word daar behoorlik in Afrikaans gekuier.”

Die advokaat Maritza Uys sê sy “is ’n pyn in die jis oor korrekte spelling en taalgebruik, veral in die sosiale media”. Haar Afrikaans lyk soos sy, want Afrikaans is haar wese.

As water-en-hulpbronregsadviseur dring sy aan op die toepassing van haar grondwetlike reg op Afrikaans, maar dit is ook vir haar lekker om met ander mense in hul taal te probeer praat, sê sy. So wys sy ook dat sy hul gelyke grondwetlike regte respekteer.

Prof. Fransjohan Pretorius “voel sterk daaroor dat ’n mens so suiwer moontlik moet probeer praat”.

Dié geskiedeniskenner, wat as een van die voorste kenners van die Anglo-Boereoorlog beskou word, werk met die Afrikaner- en Afrikaanse geskiedenis en is geweldig trots op sy taal en wat hy daarmee bereik het. Hy werk onder meer as dosent by die Universiteit van Pretoria.

Fransjohan stel veral belang in die manier waarop Afrikaanse skrywers in hul boeke met die Afrikaanse geskiedenis omgaan.

Ná 40 jaar as mynbou-ingenieur, waar dr. Jopie Coetzee byna net Engels in die werkplek moes praat, ontdek dié Johannesburger nou opnuut die skoonheid en veerkrag van Afrikaans.

Hy lees Afrikaanse woordeboeke en lê elke dag ’n speltoets af. Hy gesels ook graag met mense wie se tweede of derde taal Afrikaans is.

“Wanneer ek droom, kreatief besig is of God aanbid, doen ek dit in Afrikaans.”

Cecil Jacobs, ’n oudballetonderwyser van Strandfontein in Kaapstad, gebruik Afrikaans om sy gemeenskap te bemoedig en kinders van die strate af te hou.

Nie net bied hy steeds Saterdae oggenddansklasse by sy huis aan nie; hy deel ook Afrikaanse boeke aan kinders uit en as opgeleide onderwyser help hy ouers om hul kinders skoolgereed te kry.

Hy sê hy is bekommerd oor die kinders van sy gemeenskap se vermoë om in Afrikaans te kommunikeer, en hy en sy vrou, Brenda, werk hard om dit te verbeter.

Leer nog oor mense wat in Afrikaans leef en werk deur afrikaans.com te besoek en hul ambassadeurs vir Afrikaans te leer ken.