Daar is nog geen spoor van Scott van Zyl nie. Hy is die beroepsjagter wat verlede Vrydag tydens ’n jagtog in Zimbabwe verdwyn het.

scott-2
“Daar is nog niks!” het Gerhard Vos, wat die soekspanne koördineer, gisteraand per WhatsApp uit Zimbabwe laat weet.

Salomé de Villiers, ’n beroepsjagter wat geld bymekaarmaak deur die geldinsamelingswebtuiste Go Fund Me, het op Facebook geskryf ’n beloning van $5 000 is uitgeloof vir enige inligting wat daartoe lei dat Scott gevind word.

’n Video wat Salomé geplaas het, wys hoe iemand ’n pamflet met Scott se gesig op uit ’n helikopter in ’n klein verlate nedersetting gooi. Dit is net nog ’n poging in die soektog na Scott, eienaar van SS Pro Safaris op Marken in Limpopo.

“Hou aan bid vir Scott en sy familie. Alles is in die Here se hande. Alles wat menslik moontlik is, word gedoen om Scotta te kry,” het Salomé geskryf.

Scott, ’n pa van twee, het Vrydag verdwyn nadat hy saam met sy honde veld toe is. Sy honde het later alleen teruggekom. Scott was saam met ’n groep buitelandse jagters naby die Chikwaraka-kamp.

Gerhard sê die soektog is baie duur en dat hulle dringend nog geld nodig het om die helikopters in die lug te hou.

Enigemand met inligting oor Scott kan kol. Sakkie Jooste by 071-798-7954 bel.