'Ek glo net nie dat dit reg is nie.'

“Ek glo net nie dat dit reg is nie. Hulle glo sy storie; ek glo dit nie. Dis die verskil,” het Reeva se ma, June, in ’n onderhoud met NBC gesê.

“Ek gee regtig nie om wat met Oscar gebeur nie. Dit gaan niks verander nie, want my dogter kom nooit terug nie. Hy lewe en haal nog asem, en sy is vir ewig weg.”

Sy het gesê daar is so baie foute begaan en die atleet se storie “maak nie sin nie”.

NBC het met die Steenkamp-egpaar gepraat nadat regt. Thokozile Masipa Oscar vrygespreek het op moord maar skuldig bevind het aan strafbare manslag.

Oscar het Reeva, sy meisie, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria doodgeskiet.

Reeva se pa, Barry, het gesê daar is ongeloof, nie net by hulle nie, maar by “almal in die wêreld”.

June het gesê baie mense wil weet wat gebeur het.

“Sy (Reeva) het ’n aaklige dood gesterf. Dit was ’n aaklige, pynlike dood en sy het gely,” het sy gesê.

“Hy het op die deur geskiet en ek kan nie glo dat hulle glo dit was per ongeluk nie.

NBC het berig die Steenkamp-egpaar wil met Oscar praat.

Hulle het gesê hulle wil nie wraak hê nie, maar wil hê die waarheid moet aan die lig kom.

- Sapa