“Ons aanvaar die uitspraak. Oscar sal die vonnis aanvaar,” het Arnold aan die media gesê nadat regt. Thokozile Masipa die vonnis opgelê het. “As ’n oom hoop ek Oscar sal met die helingsproses begin terwyl hy hierdie pad stap en die vonnis uitdien.”
'Ons is almal emosioneel uitgeput.'

Arnold se vrou, Lois, was by hom. Die egpaar wou geen vrae van die media beantwoord nie, maar Arnold het wel gesê die 20 maande sedert die borgtogaansoek en daaropvolgende hofverrigtinge was ’n taai tyd. “Ons is almal emosioneel uitgeput. Die saak sou aanvanklik drie weke geduur het, maar het sewe maande gesloer.”

Hy het ook die staat se saak gekritiseer en gesê die aanklaers het alles moontlik probeer “om die moordaanklag deur te voer. Die staat wou so veel skade moontlik aanrig.”

Hy het by die media aangedring om die beslissing te aanvaar en om die families, insluitend die ouers van wyle Reeva Steenkamp, ruimte te gee om aan te beweeg.

Die regter het Oscar vyf jaar tronkstraf opgelê weens strafbare manslag. Vir die skietvoorval by die restaurant Tasha’s in Melrose Arch het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vyf jaar opgeskort is. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

- Sapa