Fikile Mbalula, die minister van sport, sê Oscar Pistorius se skuldigbevinding en vonnis beteken ook die einde van sy internasionale atletiekloopbaan, berig die Cape Argus.

Die paralimpiese atleet is die afgelope week gevonnis vir sy meisie, Reeva Steenkamp, se dood nadat hy skuldig bevind is aan strafbare manslag. “Vir my beteken (die skuldigbevinding en vonnis) dis die einde van die pad en die einde van sy reis,” het Mbalula aan die koerant gesê.
'Dit is jammer dit moes so eindig.'

“Dit is jammer dit moes so eindig, maar die hof het beslis en ons sal hul uitspraak en besluit respekteer.”

Volgens Mbalula het Oscar “deure geopen” vir Suid-Afrikaners in die internasionale sportarena.

“Die vonnis was ’n baie hartseer oomblik vir ons in sport in die sin dat Oscar met sy wysheid en vaardighede bo sy omstandighede uitgestyg het in sport.”

“Ek dink nie Oscar sal in staat wees om terug te keer tot atletiek nie.”

Oscar is vyf jaar se tronkstraf opgelê vir strafbare manslag. Vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n restaurant is hy tot drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis. Die vonnisse word samelopend uitgedien.

- Sapa