Ons het almal so ’n vriend op Facebook, die een wat jou Nuusbrokkies oorlaai met foto’s van hul katte of kinders of waarop hulle ’n pruilmond trek. Dis irriterend of hoe?

Dit klink dalk na ’n eenvoudige oplossing om hulle as ’n vriend(in) te verwyder; Facebook sal hulle immers nie laat weet nie, maar wat gebeur wanneer hulle skielik wonder waarom jy nie meer of hul Facebook-radar verskyn nie en dan na jou profiel gaan kyk, net om daardie ongemaklike “Bevriend”-knoppie aan die regterkant te sien? Dan spring die aap uit die mou. Oeps.

As jy nie wil hê iemand wat jou met nuus oorval moet dink jy hou nie van hom of haar nie, is daar ’n makliker uitweg. Jy kan so iemand uit jou Nuusbrokkies hou en sodoende van al daardie irriterende selffoto’s ontslae raak sonder dat jy jou aan die sosiale sonde van vriendverwydering skuldig maak.

Maak so:

1.    Rol met jou nuusbrokkies af tot by een van die sondebok se plasings. (As hulle baie knaend is, behoort dit gou te gaan.)

2.    Hou jou muiswyser oor die plasing. ’n Grys pyltjie sal bo in die regterhoek verskyn. Klik daarop en kies “Verberg” (Hide).

3.    Die plasing sal met die volgende teks vervang word: “Hierdie berig is nou van jou Nuusbrokkies versteek”. Daaronder is ’n skakel wat lui: “Verander watter kennisgewings jy van (die laspos) kry”. Hou die muiswyser oor hierdie skakel. ’n Keuselys sal verskyn. Jy kan volgens prioriteit (Alle opdaterings, Meeste opdaterings, Slegs belangrik) kies watter kennisgewings jy van hom of haar wil sien. Of jy kan kies watter soort kennisgewings jy wil sien (Lewensgebeurtenisse, Wie doen wat, Foto’s, ens). As dit byvoorbeeld net daardie tuitmond-selffoto’s is waarvan jy ontslae wil raak, moet jy die regmerkie langs Foto’s verwyder. As dit die kennisgewings is van hoe lief hulle hul wederhelf het wat jou naar maak, verwyder die regmerkie langs Wie doen wat. Dis so maklik.

-   KIRSTIN BUICK