Die Rooi Kruis-kinderhospitaal is die enigste hospitaal in Afrika met ’n gespesialiseerde brandwondeenheid en sy statistieke toon dat 84% van die brandwonde wat daar behandel word ’n gevolg van vloeistof is. Die hospitaal se reklamebeampte, Ronnis Daniels, gee dié waardevolle raad.

Veiligheidswenke:

  • Hou vuurhoutjies, kerse en aanstekers ten alle tye uit kinders se bereik. Vuurhoutjies prikkel ’n kind se natuurlike nuuskierigheid, wat tot ’n tragedie kan lei.
  • Moet nooit ’n kind alleen in ’n vertrek los met ’n oop vuur of brandende kers of lamp nie. Sulke gloeiende voorwerpe fassineer jong kinders. Hulle gaan ook dalk ’n vuur probeer maak.
  • Sit altyd warm kos in die middel van die tafel. Warm vloeistowwe of kos kan ’n kind lewenslank skend.
  • Tap altyd eerste koue water in die bad. Moet klein kinders nooit alleen in die badkamer los nie; hulle draai dalk die warmwaterkraan oop en weet nie hoe om dit weer toe te draai nie. Ignoreer die telefoon of deurklokkie.
  • Rokers moet versigtig wees. Moet nooit in die bed rook nie. Die beddegoed kan vlam vat en ’n brand begin.
  • Moet nooit kragpunte oorlaai nie; dit kan ook ’n brand veroorsaak. Moenie elektriese koorde onder matte laat loop nie.
  • Hou elektriese koorde kort en buite bereik van kinders. Moet kinders nooit toelaat om met kragproppe of elektriese toerusting te speel nie. Herstel onmiddellik foutiewe kragproppe en verweerde koorde.
  • Hou spuitkannetjies weg van enige bron van hitte. Ontploffings kan ernstige brandwonde veroorsaak. Moet nooit leë kannetjies in ’n vuur gooi nie.
  • Moenie warm drankies hanteer wanneer jy ’n baba of jong kind vashou nie.
  • Draai altyd jou panne se handvatsel na die binnekant van jou stoof. Leer kinders om weg te bly van die stoof af – warm olie kan kwaai brandwonde veroorsaak.
  • Hou babas op ’n veilige afstand wanneer jy kos maak. Moet nooit warm kos om hulle hanteer nie.
  • Moet nooit vlambare vloeistowwe op ’n vuur gooi nie, veral nie wanneer daar kinders naby is nie.

Maak so as jou kind ’n brandwond opdoen

  • Verwyder hulle van die hittebron.
  • Verwyder enige klere van die gebrande area. Moenie klere verwyder wat vassit nie.
  • Gebruik net koue water op ’n brandwond.
  • Behandel die brandwond minstens 15 minute met koue water.
  • Moet niks anders aan die wond smeer nie.
  • Bedek die wond met ’n skoon stuk lap of kleefplastiek.
  • Neem die kind na die naaste kliniek, hospitaal of dokter vir behandeling.

Wat jy NIE met ’n brandwond moet doen nie

  • Moenie ys, botter, margarien of opwasmiddel aan die wond smeer nie.
  • Moenie blase stukkend steek nie.

- Shandukani Mulaudzi

Bronne: westerncape.gov.za, childrenshospitaltrust.org.za

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.