So graag wil sy vir Jaco, met wie sy destyds ’n paar uur lank op die strand gesels het, opspoor dat sy onlangs drie keer ’n geklassifiseerde advertensie in die Afrikaanse dagblad Beeld laat plaas het. Die derde advertensie het Saterdag verskyn.

Lee-Ann hoop om weer kontak te maak met ene Jaco. Foto: Verskaf

“Ek is op soek na ’n Jaco wat ek in Desember 2009 by Uvongostrand ontmoet het. Jaco is nou omtrent 25-26 jaar oud en het vermoedelik vir ’n paneelklopper gewerk,” lui die Afrikaanse advertensie wat die Engelssprekende Lee-Ann geplaas het.

Lee-Ann, wat in Fairland in Johannesburg woon, sê destyds het sy en Jaco mekaar vir ’n paar uur op die strand gesien voordat hy “skaam geraak en weggehardloop het”, vertel Lee-Ann.

Sy onthou hy het na ’n baie vriendelike ou geklink en het gesê hy doen houtwerk. Hy het rooi hare en was destyds skraal gebou. Ná die Desembervakansie destyds het hulle een keer telefonies gepraat, maar sy vermoed hy het daarna sy selfoon verloor, want sy kon hom nie weer daarna bereik nie.

Die enigste ander inligting tot haar beskikking is dat sy ma se naam Linda en sy suster se naam Marisa is.

“Ek sal hom so graag weer wil sien en vriende wees met hom,” sê Lee-Ann.