Nadat gerugte Sondag in wêreldmedia die ronde gedoen het dat die veroordeelde lemnaeller Oscar Pistorius sy eie polse probeer sny het in die tronk, het sy familie op die gerugte gereageer.

Oscar is Saterdagmiddag na die Kalafong-staatshospitaal in die weste van Pretoria geneem weens beserings ná hy van sy bed afgeval het, het die woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), Singabakho Nxumalo, aan Huisgenoot bevestig. Oor die gerugte dat Oscar sy eie polse gesny het, het sy oom Arnold per SMS aan Huisgenoot gesê hulle het hom vanoggend besoek en "geen verbande of pleisters" was iewers te siene nie. "Hy was vol grappies oor (die feit dat hy gegly het) op sy stompies en hoe die (bed-)kassie op wiele hom nie kon help bo bly nie." Oscar se broer, Carl, het intussen ook in ’n boodskap wat hy op Twitter gedeel het, gesê dit gaan “onder die omstandighede” goed met Oscar ná hy hom ook vandag gesien het. Carl het die gerugte dat sy broer sy eie lewe probeer neem het, afgemaak as onwaar en sensasioneel. “Hy het in sy sel geglip en homself beseer, niks ernstigs nie,” het Carl gesê bevestig.