’n Amerikaanse tiener en haar terminaal siek ma het onlangs wêreldwyd opslae gemaak toe haar skool ’n roerende diplomaplegtigheid langs haar ma se sterfbed toelaat. Megan Sugg was bang dat haar ma nie haar matriekjaar sou oorleef nie, en dat sy die amptelike plegtigheid in Junie sou misloop. Daar is toe ’n privaat plegtigheid op 8 Mei gehou. Haar ma, Darlene, is twee dae later oorlede. Lees meer hier.

Wanneer daar ’n ernstige of terminale siekte by jou of ’n familielid gediagnoseer word, is die impak op jou gesin onafwendbaar. Baie ouers in hierdie situasie sê dat hulle meer bekommerd is oor hoe om dit met hul kinders te bespreek as oor die siekte self. Hier is ’n paar wenke om jou te help met hierdie moeilike gesprek.

Stilbly skep angs

Kinders is baie sensitief vir die emosionele buie en nie-verbale kommunikasie van volwassenes rondom hulle. Hulle kan dikwels aanvoel dat ’n ouer ontsteld is, selfs wanneer die ouer dink die kind is onbewus daarvan. As jy nie met hulle daaroor praat nie, gaan hul verbeelding dalk op hol en skep dit groot angs by hulle. Hulle kan ook hulself verwyt oor jou bekommernis.

Kies die regte tyd

Om met jou kind oor ’n ernstige siekte te praat, veral as jy self die pasiënt is, is nie lekker of maklik nie. Nietemin is dit nie ’n goeie idee om dit te lank uit te stel nie. Probeer ’n tyd kry wanneer jy self kalm is – om so ’n gesprek te begin as jy ontsteld is, kan slegte gevolge hê. Laat genoeg tyd toe vir jou kind om vrae te vra. Tien minute voor julle moet skool toe ry, is definitief nie ’n goeie tyd nie!

Ken jou kind en verduidelik soveel jy kan

Dit gaan natuurlik afhang van jou kind se ouderdom en ontwikkelingsfase. Maar kinders van enige ouderdom moet toegelaat word om vrae te vra en om hul gevoelens uit te druk. Gee jou kinders soveel inligting as wat hulle op hul ouderdom kan verwerk. Jy sal jou kind se vermoë om inligting te verwerk kan bepaal deur ingestel te wees op jou kind se emosionele reaksies.

Wees eerlik!

Moenie dink jy bewys jou kind ’n guns deur vir hulle te jok oor die erns van die situasie nie. Om te sê jy weet nie is ook ’n aanvaarbare antwoord as dit die waarheid is. Dit is ook belangrik om nie beloftes te maak nie. Moet byvoorbeeld nie sê dat die kind se geliefde nie sal doodgaan nie; verduidelik eerder dat die meeste mense ’n lang lewe lei, en dat daar wel maniere is om hulle te probeer help wanneer hulle siek word, en dat dit is wat nou gaan gebeur.

Wat gaan met die pasiënt gebeur?

Dit is belangrik om te verduidelik – veral aan jonger kinders – hoe behandeling die pasiënt gaan raak sodat hulle nie verward is wanneer hulle hierdie simptome by ’n geliefde sien nie. In die geval van chemoterapie is dit goed om op ’n konkrete manier (selfs met prentjies as dit nodig is) te verduidelik wat die chemoterapie se werk is, maar dan ook dat die pasiënt moeg en naar gaan voel, baie gaan slaap en moontlik hul hare gaan verloor.

Met ’n tiener is dit belangrik dat jy nie jou verduideliking probeer oorvereenvoudig nie – praat in groter besonderhede oor jou diagnose en behandeling. Jy kan selfs jou tiener saamvat vir ’n gesprek met jou dokter as jy dink hulle daarby sal baat vind.

Hoe raak dit die kind?

Dit is onafwendbaar dat ’n terminale siekte die gesinsroetine gaan beïnvloed, ongeag hoe hard jy probeer om dinge normaal te hou. As jou kind onvoorbereid is op hierdie verandering, kan dit ernstige gevolge hê vir hul gemoedstoestand en gedragspatrone. Wees baie prakties wanneer julle hieroor praat. Sê byvoorbeeld: “Pappa gaan baie moeg wees wanneer hy van die hospitaal af kom, en sal dalk nie meer saam met jou buite kan speel nie.” Of: “Mamma gaan meer moet slaap as gewoonlik, so die buurtannie sal jou soggens by die skool gaan aflaai.”

Jy kan weereens in groter besonderhede met jou tiener praat oor die impak van die diagnose en behandeling op hul lewe,  byvoorbeeld die finansiële implikasies wat dit inhou en dat dit moontlik meer verantwoordelikhede in en rondom die huis vir hulle gaan beteken.

Een ernstige praatjie is nie genoeg nie

Kinders het tyd nodig om te verwerk wat hulle gehoor het. Skep gereeld die geleentheid om oor die kwessies te praat. Kinders kan dalk bang wees om vrae te vra, en het dalk nodig dat jy weer die saak aanroer nadat hulle tyd gehad het om daaroor te dink.

- Suzaan Hauman

Bronne: dana-farber.org, huffingtonpost.com, cancer.org