gerrieoscar-1
“Dit is nooit ’n maklike taak om ’n aansoek om verlof tot appèl te bring nie,” het die aanklaer Gerrie Nel gesê.
'Ons doen dit met die grootste respek vir die hof.'

“Dit is ’n uitsondering; dit is my eerste. Ons doen dit met die grootste respek vir die hof. Die besluit is nie ligtelik geneem nie.”

Gerrie het gesê hy sal nie weer die saak argumenteer nie, maar sal fokus op die probleem op hande.

Oscar was nie Dinsdag in die hof nie, maar sy prokureurs Barry Roux en Brian Webber het hom verteenwoordig.

Die staat het aansoek gedoen om ’n swaarder skuldigbevinding en vonnis vir paralimpiese atleet.

Oscar is vyf jaar tronkstraf opgelê weens die strafbare manslag van sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar. Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur geskiet.

Hy het beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

Nie Oscar se familie of die Steenkamps was Dinsdag in die hof nie.

Oscar is op 21 Oktober vyf jaar tronkstraf opgelê weens strafbare manslag. Vir die skietvoorval by die restaurant Tasha’s in Sandton, Johannesburg, in Januarie verlede jaar het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vyf jaar opgeskort is.

Dinsdag het Gerrie gesê die vonnis is “skokkend lig en onvanpas”.

Regt. Masipa se assessore was nie teenwoordig nie en sy sal die aansoek alleen hanteer.

Daar was drie kameras in die hof – een agter en twee weerskante aan die voorkant.