Desré, ’n gebore Kapenaar, het as 18-jarige saam met haar gesin na Amerika geïmmigreer, maar in 1990 het die Suid-Afrikaanse volk se opgewondenheid oor Mandela se vrylating haar geïnspireer om terug te keer na haar geboorteland. As jong vrou het sy reeds in Amerika ’n suksesvolle klereonderneming bedryf, maar sê sy het Suid-Afrika te veel gemis. “Ek het jare lank daarvan gedroom om na Suid-Afrika terug te keer. En Madiba se vrylating het my aangespoor om dit te doen.”

Toe sy in 1994 hoor Mandela kom Kaap toe vir ’n besoek aan ’n sinagoge, het sy dadelik ’n plan beraam, maar het nooit tyd gekry om ’n geskenk vir hom te soek nie. “Toe ek my klerekas oopmaak, sien ek die splinternuwe swart hemp met ’n vismotief en besluit om dit vir hom te gee.”

Desré het agterop een van haar visitekaartjies, wat sy in die hempsak gelos het, ’n nota aan Mandela geskryf waarin sy hom prys vir sy eindelose liefde, toewyding en alles wat hy opgeoffer het vir die land en sy mense.

Tydens ’n teepouse met Mandela se besoek aan die sinagoge het sy besluit dis nou of nooit en die pakkie in een van sy persoonlike lyfwagte se hande gestop. “’n Paar dae later kry ek ’n oproep van my vriendin om te vra of ek die koerante gesien het. En daar staan hy met die grootste glimlag op sy gesig en in die hemp wat ek vir hom gegee het by die repetisie van die opening van Suid-Afrika se eerste demokratiese parlement!”

Die swart hemp met visse is later die “Fish Shirt” gedoop. Min het sy geweet dis die begin van ’n jare lange vennootskap en nog baie hemde. Tussendeur het sy nooit ophou hemde stuur nie en in Junie 1995 kry sy ’n oproep van Mandela se sekretaresse om te hoor of sy hom in Tuynhuys kan ontmoet.

“Die volgende oggend het gou gekom. Ek het in sy kantoor gewag en die volgende oomblik gaan die deur oop. Hy was amper so lank soos die deurkosyn. Ek het my arms om sy nek gegooi en begin huil. Hy het vir my gesê dis ’n eer om my te ontmoet.”

DSCN1992

Desré skat sy het met die jare meer as 150 syhemde vir Mandela gemaak. Hul laaste ontmoeting was by Mandela se huis in Houghtonkort voor die Wêreldbekersokkertoernooi van 2010. “Ek sal altyd onthou hoe hy my laat voel het. Dis moeilik om te verduidelik, maar hy het ’n mens opgewonde laat voel en aangemoedig om altyd jou beste voet voor te sit. Dit was vir my ’n eer dat hy my hemde gedra het en dat ek so deel van sy lewe kon wees.”

-Edna Isaacs en Petro-Anne Vlok