Hierdie is Al Debbo se laaste onderhoud met ons. Debbo het in 'n Bloemfonteinse hospitaal gesterf nadat hy sowat drie weke gelede opgeneem en vir ligte longontsteking behandel is. 

Kombers oor die knieë sit Al Debbo in die sonnetjie hier in sy huis in Bloemfontein.

Teen die mure hang geblokte plakkate, geraamde oorkondes en sertifikate  – die stille getuienis van meer as ’n halfeeu se werk as vermaaklikheidster.

Daar is ook die kiekies van medekunstenaars uit toeka se dae, foto’s van sy kinders en op die vloer selfs ’n standbeeld van die grapjas.

Die kontoere van sy gesig is vervalle en jare van snaakse gesigte trek het diep kepe in sy wange gelaat. Maar as hy sy bekende keps en bril opsit, word Al (86) se oë skielik pieringgroot en skrik die komediant in hom wakker.

“Ek het ’n swemkeppie op en ’n doekie om my kop,” trek hy sonder uitnodiging los met sy bekende 1968-treffer, Sonbrilletjies.

Sy asem is kort terwyl hy die liedjie die soveelste keer uitvoer. Hy het twee jaar gelede amptelik sy laaste vertoning gelewer, maar as die kollig en kamera op hom val, soos met vandag se fotosessie, is daar geen tekort aan geesdrif nie.

“As hy die hoed opsit, vergeet hy dat hy oud is,” sê sy vrou, Ansa (55). “Soos jy kan sien, doen hy nog gereeld vir ons shows,” spot sy.

“Ek tree nog op,” val Al haar in die rede, “want dis vir my lekker.” Want dit is wie en wat hy is: Akteur. Komediant. Hy was ook ’n radio-omroeper en sanger. En humor is sy handelsmerk.

“Ommense te vermaak is beter as om ’n dokter te wees. Ek sou nie iets anders wou doen as om mense te laat lag nie,” sê hy.

En sy snaakse streep was nog altyd daar . . .

Hy was as kind al ’n grapjas, vertel Al, maar dit was sy oom Alec by wie hy aangesteek en sy snaakse giere voor vriende en familie leer uithaal het.

“Eintlik was oom Alec die snaakse een; ek het maar by hom gesien hoe dit werk,” sê hy.

Die Debbo-gesin se wortels lê in Libanon.

Al se pa, Azar, het net ná die vorige eeuwisseling in die vroeë 1900’s uit Libanon na Suid-Afrika geïmmigreer om treinspore hier te kom bou. Hier het hy Al se ma, ook ’n Libanees, ontmoet en getrou, en die egpaar het hulle in die Rosestad gevestig waar die Debbo’s jare lank winkeliers was.

Dis net daar in die winkel waar Al Afrikaans leer praat het, sy derde taal naas Engels en Libanees.

In hul huis is net Libanees gepraat, vertel Al, “maar in my pa se winkel het baie mense ingekom en net Afrikaans gepraat. Dus kon ek nie anders nie.”

Ná skool het hy vir loodgieter geleer, en wat aanvanklik as ’n gespot tussen vriende en kollegas begin het, het eindelik op ’n lang loopbaan in gekskeerdery uitgeloop.

As jong man het hy dikwels mense vir die grap nagemaak – van Winston Churchill tot genl. Jan Smuts en sangers soos Nat King Cole – en sy oë op die nou bekende manier begin rol, maar hy het nooit snaaks wees as ’n lewe oorweeg nie.

Tot ’n kollega hom aangemoedig het om in 1948 sy giere verhoog toe te vat deur vir ’n landwye talentkompetisie in te skryf.

En so – op 24 – word Al in Port Elizabeth as nasionale wenner van die South African Industries Fair gekroon.

Dit was ook sy laaste dag as loodgieter, en hy het mense heeltyds begin vermaak.

“Dis maar soos iemand wat vandag Idols wen,” vertel Ansa. “Jy begin dadelik met ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf.”

Dit was dieselfde jaar dat Al sy eerste rol in ’n fliek gespeel het, ’n klein drie minute lange verskyning in die prent Die Kaskenades van Dokter Kwak.

Oor die jare het nie minder nie as 19 rolprente gevolg, waarvan die laaste Leon Schuster se Oh Shucks I’m Gatvol (2004) was, waarin Al ’n kameerol gehad het.

Ná Al se verskyning in Die Kaskenades van Dokter Kwak het die rolprentmaker Pierre de Wet hom raakgesien en met die blink plan vorendag gekom om twee karakters te skep vir ’n nuwe fliek, ’n soort Suid-Afrikaanse Laurel en Hardy.

Al moes die een rol speel, maar hulle moes ’n tweede karakter kry.

“Ek het iemand gesoek wat die teenoorgestelde van my was. Ek is maer en het ’n vette gesoek,” vertel Al heel ernstig.

En so het hy en Pierre vir Frederik Burgers, nog ’n Afrikaanse ster wat in die 1940’s beroemd geword het, gevind en ’n suksesvolle duo is gevestig.

“Daar is Pierre met die fiets en daar is Frikkie,” sê Al en beduie na ’n foto teen die muur van die sitkamer. Die tweestuks se eerste fliek was Kom Saam

Vanaand, in 1949, en nog sewe flieks met die twee karakters het gevolg.

Danksy sy fliekrolle was Al ’n ster, en gou het hy ook as sanger begin naam maak.

Hoewel die meeste mense hom vandag as die sanger van Sonbrilletjies onthou, was dit sy groot treffer Hasie, wat deur Nico Carstens geskryf is, wat sy sangloopbaan in 1968 behoorlik laat vlam vat het.

Elf albums het gevolg, waarvan die laaste in 2003, ’n grootstetreffers-CD met die naam Pieringoog Potpourri. Twee jaar later is hy in 2005 met ’n Sama-toekenning vir lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek vereer.

Tussen toneelspeel en sing kon hy egter nie kies nie.

“Albei was ewe lekker. Daardie boek kan jou als vertel. Ek kan nie meer als onthou nie,” erken Al en beduie na die plakboek wat Ansa van sy loopbaan gemaak het.

Dis vol koerantknipsels van vertonings, hoogtepunte, toere, verjaardae en die geboorte van sy kinders en hul troues.

Hoewel hy die pa is van sewe, oupa van tien en oupagrootjie van ses, pla die ouderdom hom min. Trouens, hy hou vol: Hy wil nog 112 jaar oud word!

“Hy is eintlik baie gesond,” vertel Ansa. “Sy longe is net ’n bietjie gedaan van al die jare se rook, maar hy drink nie medisyne of iets nie. Hy is nie siek

nie en word net weens sy longe vinnig moeg. Andersins drink hy nie een pilletjie nie.”

Ansa is sy derde vrou en die twee is al 29 jaar lank getroud. Sy en Al het mekaar in 1979 in Welkom ontmoet toe hy en Nico Carstens by die skool waar sy ’n onderwyser was, ’n vertoning ten bate van die Voortrekkers gehou het.

“Ek wou nie eens gaan nie, want ek het nie eintlik van sy goed gehou nie,” vertel Ansa. Maar op die ou end is sy wel soontoe saam met ’n vriendin en dié se seun wat graag vir Al wou sien, en sy het Al by die geselligheid ná die tyd ontmoet.

Hulle het kontak behou en die twee is uiteindelik op 25 Februarie 1981 in Pretoria, waar Al lank as kunstenaar gewoon het, getroud. Hulle het twee seuns, Alec (25) en Azar (24).

Alec het drama aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) geswot en volg in sy pa se vermaaklikheidsvoetspore. Hy bly in Kaapstad, maar was reeds in ’n paar episodes van 7de Laan te sien, het ook al in die sitkom Andries Plak op SABC2 gespeel en in verhoogproduksies by kunstefeeste oor die land heen.

Aan die ander kant is Azar ’n kranige sportman. Hy het reeds op skool onder meer as swemmer uitgeblink. Hy het ’n B.Sc.-graad aan die UV verwerf en is deesdae ’n fiksheidsafrigter in Bloemfontein wat boonop sy Springbok-kleure in liggaamsbou verwerf het.

Azar het Suid-Afrika al onder meer in Moskou, Rusland, in liggaamsbou verteenwoordig.

Alec is gebore toe sy pa 60 was en vertel dat hy eers op ’n laat ouderdom besef het hoe gewild sy pa eintlik was.

“Ons het maar grootgeword met Al Debbo as ons pa, maar het nooit werklik die omvang daarvan besef nie. Tot ek in gr. 11 was en my pa saam met Steve Hofmeyr in Steve se Toeka!-vertoning opgetree het. Toe het ek besef hoe min ek weet van wie my pa in sy tyd was en vandag nog is. My pa was baie groter as wat ek ooit gedink het.”

Ansa vertel hoe Al ’n paar jaar gelede tydens die Toeka!-toer in die hospitaal in Bloemfontein moes herstel omdat hy hom ooreis het.

“Toe Al uit die hospitaal kom, het ons Oudtshoorn toe gery vir die KKNK. Jy kan jou indink hoe hy gevoel het – hy was kláár. Ek dag ons haal Oudtshoorn nooit.

“Toe ons daar aankom, was dit Steve se groot show in die stadion en Al moes op en af by die trap. Hulle het hom naderhand in ’n groot gemakstoel laat sit.

“Ek en Carike Keuzenkamp, wat ook by die vertoning betrokke was, het so gelag, want as hy op die verhoog gaan, makeer hy skielik niks. Mense wou my nie glo dat hy pas uit die hospitaal gekom het nie.

“Ná die show het die mense vir Steve geskree hulle soek vir Al Debbo terug, maar Al was gedaan. Ek en Carike moes hom wéér by die verhoog ophelp. Maar toe die ligte op hom skyn, makeer hy weer niks!”

Hoewel sy stem op van langspeelplate tot CD’s gehoor kan word, luister Al nie meer na sy eie musiek nie.

“Ek kyk eerder televisie, veral sport,” vertel hy. Hy het die Wêreldbeker-sokkertoernooi getrou gevolg en baie geniet.

“Bafana Bafana,” sê hy en lag lekker.

Hy kyk ook graag gholf en was op sy dag self ’n kranige speler. Sy vriend Gary Player, saam met wie hy al ’n ronde of twee gespeel het, is sy gunsteling.

“Ek het ’n rukkie professioneel gholf gespeel. Ek het die Tempe-gholfbaan in Bloemfontein geopen. My voorgee was +2 en ek was ’n rukkie lank ’n pro,” spog hy.

’n Pro is hy beslis – nie net op die sportveld nie, maar ook op die verhoog, en selfs op sy oudag in sy huis in Bloemfontein, knieë onder ’n kombers, gereed vir nog ’n foto . . .

Artikel uit Huisgenoot-Tempo, Someruitgawe Desember 2010.

Volg Huisgenoot op Twitter.