Moenie vra “Wat is fout met hom/haar?” nie

Wees bedag op jou taalgebruik en moenie onsensitiewe vrae vra nie. Vra op ’n sensitiewe manier uit oor haar kind se gebrek, mits julle ’n goeie, hegte vriendskap het. As jy nie goeie vriende met iemand is nie, behoort jy nie uit te vra oor haar kind tensy die ma jou vertel nie.

Vier die geboorte en spesiale geleenthede nes jy met enige ander kind sou

Wees saam met jou vriendin bly oor die geboorte van haar baba en vier dit, selfs al is die baba met ’n gebrek gebore. Noem die kind op sy naam, gee geskenke en hanteer die geboorte met dieselfde opwinding as wat jy enige vriendin s’n sou. Moenie aanneem sy is teleurgesteld of kwaad oor haar kind nie.

Bied aan om uit te help

Vir ma’s van kinders met spesiale behoeftes is tyd dikwels ’n luukse; bied daarom aan om jou vriendin se inkopies vir haar te doen of om haar kinders rond te ry of op te pas sodat sy tyd vir haarself kan hê of tyd met haar man kan deurbring.

Laat haar toe om kwaad te wees

Om ’n gestremde kind te hê is ’n uitdagende en moeilike proses, en jy moet jou vriendin en haar man tyd gun om hul gevoelens te verwerk. Moenie verwytend wees as sy sukkel nie, en moenie druk op haar plaas om permanent gelukkig te wees nie. Die feit dat sy en haar man teleurgesteld is, beteken nie hulle het nie hul kind oneindig lief nie. Die Britse premier David Cameron het sy ervaring met sy eie gestremde kind so opgesom: “Jy rou oor die verskil tussen die kind wat jy verwag het en die kind wat jy gekry het. Dan besef jy naderhand dat die kind wat jy gekry het, wonderlik is.”

Doen moeite om te verstaan

Dit sal die wêreld vir jou vriende beteken as jy die moeite doen om te verstaan. Lees boeke en artikels sodat jy ingelig is. Dit sal wys jy stel belang en respekteer hul kind.

Hoop vir die beste

Moenie net aanneem die kind sal nooit kan presteer nie. Baie gestremde kinders bereik groot hoogtes. Tensy die ouers nie anders sê nie, neem aan dat die kind se ideale nes enige ander kind s’n is en dat hulle skool toe wil gaan, sport wil speel of ’n loopbaan wil bou. As dié ideale buite die kwessie is, sal ouers jou daarop wys.

Pasop vir:

  • Enige verwytende stellings oor “wat die ma tydens swangerskap verkeerd gedoen het” of “wat sy in haar lewe al gedoen het” om so ’n kind te kry.
  • Mediese vrae of diagnoses. Dikwels is daar nie duidelike diagnoses vir gestremde kinders nie.
  • Goedkoop rate. Lekemenings oor hoe om behoeftige kinders te hanteer of wonderkure waarvan jy gelees het, is onsensitief en kan ouers vals hoop gee.
  • Veralgemenings, soos dat gestremde kinders almal liefdevol is of almal stout is. Dit ontneem jou vriende se kinders van ’n persoonlikheid en groepeer alle kinders met spesiale behoeftes saam.
  • Aanmerkings oor hoe hulle darem ’n “normale” kind ook het.

- Mieke Vlok

Bronne: speedofdark-thebook.com, womansday.com, dcurbanmom.com